Die eerste keer in 23 jaar by Weslander is Madelie van Tonder by Media24 se jaarlikse News Excellence- prysuitdeling vereer.
Van Tonder, ’n advertensieverteenwoordiger van Weslander, is as verkoopspersoon van die jaar vir direkte verkope: plaaslike nuus, aangewys.
Die spoggeleentheid is Woensdag 6 September in die vergadersaal Nasdak in die Media24-sentrum in Kaapstad gehou.
Min het sy geweet sy sou met ’n prys wegstap. “My eerste reaksie toe ek hierdie uitnodiging kry, was om dadelik vir ons uitgewer ’n e-pos te stuur. Ek het gesê hulle het seker ’n fout gemaak met die uitnodiging en hy het net gesê aanvaar dit maar. By die aand van die prysuitdeling, toe ek my naam hoor, was ek regtig stom. Ek weet nou ’n mens moet groot droom en meer in jouself glo.”
Van Tonder se storie is sowaar een van deursettingsvermoë en toewyding deur die jare. Sy het 23 jaar gelede as geklassifiseerde tikster by Weslander begin, wat ’n “ongelooflike uitdaging” vir haar was. Sy vertel graag hoe die koerant in daai tyd dinge op die ou manier moes doen voordat tegnologie meer ontwikkel het.
“Ons het partykeer eers Donderdag- oggend ná 04:00 uit die kantoor gestap en met die Desember-koerante het ons 24-uur-skofte gehad. Ek het saam met my geklassifiseerde werk later begin blokkies (kleinadvertensies) verkoop en ná die geboorte van my dogter het Stefan Kolver [destyds verkoopsbestuurder] my gevra of ek dit nie sal oorweeg om ’n verkoopsagent te word nie.”
Van Tonder vertel dat sy effens aan haar vermoë getwyfel het, maar met leiding en ondersteuning het sy dit gou onder die knie gekry.
“Ek is nie een oomblik spyt dat ek daardie besluit geneem het nie. Vandag kan ek nie dink dat ek enigiets anders sal wil doen as dit wat ek nou doen nie.”
Weskus Media se uitgewer, Justin Cupido, sê van Tonder pak alles met ’n positiewe ingesteldheid aan en staan vir niks terug nie. “Hierdie energie werk deur na al haar kollegas. Haar kliënte kry altyd vriendelike en professionele diens terwyl sy na hul beste belange omsien.” Cupido beskryf haar as ’n staatmaker en een wat te alle tye die waardes van Weskus Media (Weslander, Weskus Nuus) en Media24 weerspieël.
Van Tonder het haar doelwit vir die boekjaar 2022-2023 met 48% oorskry en ’n jaar-op-jaar-groei van 29% in haar portefeulje behaal. “Die toekenning wat aan haar toegestaan is, is welverdiend. Ons is verskriklik trots op haar prestasie. Haar deursettingsvermoë onder moeilike omstandighede kon nie op ’n beter manier erken word nie.”
Van Tonder sê haar grootste ondersteuners is haar familie, vriende, kollegas en kliënte. “Sonder hulle sou ek dit nie kon doen nie. Die koerant met sy spertye kan partykeer baie uitdagend wees en die gemoedere kan maar hoog loop. Wanneer ek tuis is, maak my dogter en man my rustig en dan skep ek weer moed vir die volgende dag. My ma, pa, broer en suster vervul ook ’n baie groot rol in dit wat ek al vermag het. My pa is in Desember verlede jaar oorlede en ek weet hy sou só trots op my gewees het. Natuurlik sou ek niks kon vermag het sonder my geloof nie.”
Van Tonder voeg by haar wenresep – om elke maand haar teiken te haal – is as gevolg van die doelwit wat sy vir haarself gestel het. “Aan die einde van elke maand, wanneer ek my doelwit bereik het, kry ek hierdie ongelooflike rustigheid oor my en ek besef al die spanning was so die moeite werd.
“Die Here het my ’n gawe gegee en ek gebruik dit.”





