Die goue reël vir suksesvolle ondernemings is om altyd proaktief op te tree deur vooraf ’n risiko-analise te doen om te verhoed ’n probleem word groter as die oplossing.
Dit bring ons by die situasie waarin die regering hom tans bevind met die energiekrisis en Eskom se onvermoë om deurlopend krag te voorsien. Hoewel dit verfrissend is om te sien die regering wil ingryp en probeer red wat te redde is, lyk dit of die regering skielik sy hande van sy eie aandeel daaraan wil was.
Pres. Cyril Ramaphosa het inwoners hierdie week oor die voortslepende energiekrisis toegespreek en aksiepunte gedeel oor hoe die regering beplan om dit aan te durf. Opvallend was die regering se hulpkreet aan landsburgers, sake-eienaars, huiseienaars en die private sektor om met die regering “hande te neem” om oplossings te vind. Hoewel nasiebou ten alle koste bevorder moet word om vooruitgang in ons mooi land te verseker, is dit effe arrogant van die regering om voor te stel sakeondernemings en huishoudings “wat kan”, moet in sonpanele belê as een van die vier aksiepunte wat geïdentifiseer is om die energiekrisis die hoof te bied.
’n Mens kan maar net wonder of die regering so ywerig gaan wees om geld hiervoor beskikbaar te stel en of die belastingbetaler net verder sal moet opdok vir die onvermoë van die staat om hierdie diens te lewer.




