’n Week is verby en steeds is daar geen teken van klein Joslin nie.

Die nuusweek is grootliks oorskadu deur allerhande bewerings en aantygings, leidrade wat tot dusver niks konkreets opgelewer het nie, en van sosiale-media-beïnvloeders tot politici wat ook hul stem wil laat hoor.

Hoewel die nasionale sosialemedia- en media-aandag beteken meer oë help soek na Joslin, het dit ook die nadeel gehad dat polisiehulpbronne, wat reeds beperk is, telkemale hul aandag elders moet verskuif soos elkeen met hul eie “leidrade” vorendag kom in hul soeke na die pragtige blou-oog-kind van Middelpos.

Het ons sig verloor van die uiteindelike doel – om Joslin op te spoor – of sit ons met ’n passievolle gemeenskap wat nie doeltreffend gekoördineer word nie; in ’n uiters kritieke tyd waarin streng leierskap nodig is? Die hoeveelheid aandag wat Joslin se ma tans geniet, is kommerwekkend en neem die fokus weg van die ondersoek.

Almal wil uiteraard agter die waarheid kom, maar om ’n heksejag op sosiale media te voer en mense te dreig, bemoeilik net verder die taak van ondersoekbeamptes wat reeds met ’n klomp verskillende weergawes probeer om die legkaart aanmekaar te sit. Kom ons bêre ons ego’s eenkant, laat die polisie toe om hul werk te doen en versterk hul hande deur gebed en samehorigheid.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article