Wie gaan volgende ’n slagoffer van hierdie geweld word?
Dít is die vraag wat inwoners van Witteklip hulself afvra.
Aanvalle op bejaardes steek volgens inwoners al hoe meer kop uit in die gemeenskap van Witteklip, wat kommer onder dié inwoners wek.
’n 53-jarige inwoner van Witteklip het aan Weslander vertel hy was Sondag 29 Oktober ’n slagoffer van ’n voorval. Volgens die inwoner is hy met ’n mes in die linkerboarm gesteek terwyl hy na ’n vriend op pad was. Die aand voor die voorval op Saterdag 28 Oktober, vertel die inwoner, het dieselfde verdagte sy eiendom beskadig.
Kapt. Tania Helfrich, ’n polisiewoordvoerder van die Weskus-distrik, het intussen die voorval bevestig en gesê Thabang Majodina (23) is Maandag 30 Oktober in hegtenis geneem. Hy het die volgende dag, Dinsdag 31 Oktober, in die Vredenburg-landdroshof verskyn op aanklagte van opsetlike saakbeskadiging en aanranding met die doel om ernstig te beseer.
Die inwoner voel egter hierdie soort aanvalle kom al ’n ruk aan in die gemeenskap en sê dit is jongmense wat vir hierdie dade verantwoordelik is. “Ons vra al onsself af – wanneer gaan dit end kry?” vra die inwoner. “Al hoe ons dit op ’n manier kan stop, is as ons hof te gaan en die hof nie borgtog toestaan nie. Ons het nie sulke mense in ons gemeenskap nodig nie.”
’n Ander inwoner stem ook saam dat talle ander gevalle voorgekom het en die rede hoekom die bejaardes aangeval word, is omdat hulle hulself nie kan verdedig nie. “Die jongmense loop nie meer alleen nie, maar in groepe met allerhande wapens. Dit is al kinders van net agt en nege jaar wat by die misdaad betrokke is. Hulle word deur dié ouer as hulle gestuur om die dade te pleeg.”
Witteklip sit tans sonder ’n buurtwag. Inwoners meen die instelling van ’n buurtwag sal ook help om misdaad in die gemeenskap te bekamp.
Norman van Wyk, ’n gemeenskapsaktivis en wykskomiteelid wie se seun, Eurico, onlangs in die einste Witteklip vermoor is (“Local leader’s son killed, Weslander, 31 Augustus 2023) stem saam dit is ’n jong groep wat die ouer garde teiken en dit het ’n tendens geword. Van Wyk glo die enigste manier om verandering te bewerkstellig, is meer sigbaarheid van die polisie en wetstoepassers, wat van kardinale belang is. “Ek kan dit nie genoeg beklemtoon nie,” sê van Wyk.
Van Wyk glo ook maatskaplike-opheffing-programme vir die jeug is noodsaaklik en dit sal hulle aanmoedig en iets gee waarop hulle trots kan wees – so ook polisie- opvoedkundige programme vir die jeug, wat hulle sal opvoed oor die gevaar van bendes en die gevaar van betrokkenheid by bendes.
Van Wyk het weer eens, soos voorheen, klem daarop gelê dat misdadigers opgesluit moet bly as ’n teken en voorbeeld van waarvoor die reg daar is.
Die inwoner sê “die feesseisoen is op ons drumpel, wanneer ons baie besoekers sal hê wat die ekonomie in die Weskus ’n hupstoot sal gee, maar met al hierdie misdaad word hulle elke jaar minder. Dringende aksie sal geneem moet word.”



