Boland-rugby se Grootuitdaagbeker het geen verrassings in die eerste wedstryde van die tweede ronde opgelewer nie.
Die voorloper op die punteleer, St. Helenabaai, het die groentruie van Mamre onthaal en die wedstryd 34-27 gewen om sodoende hul eerste plek te behou.
Die wedstryd, wat baie gelykop begin het, is ná 20 min versuur toe die besoekers ’n rooikaart kry met die telling 6-5 in die tuisspan se guns. Die tuisspan het dit tot sy voordeel gebruik en later gaan water drink met die telling 19-5.
Mamre het in die tweede helfte, ten spyte van een speler minder, steeds die aanvalswerk gedoen en die tuisspan, wat die meeste van die verdediging moes doen, op die agtervoet gehou.
Die besoekers was gewis die hongerste van die twee spanne en het die agterstand stelselmatig laat krimp, en met 12 minute se speeltyd oor in die tuisspan se guns, het die besoekers se dissipline hulle in die steek gelaat en Mamre het ’n geelkaart gekry.
Met 13 spelers kon Mamre egter nie al die gate toestop nie, maar het nogtans ’n verdoelde drie behaal en twee kampioenskapspunte uit die wedstryd verkry, waardeur die tuisspan sy eerste plek op die punteleer behou het.
Saldanha, wat in die Agterbaaiers se nek blaas, het ook ’n goeie weg-oorwinning behaal terwyl Young Hearts, wat in die eerste ronde nie ’n enkele wegwedstryd gewen het nie, sy veldtog met ’n oorwinning afgeskop het.
Ander uitslae van die naweek was: Piketberg 23-34 Saldanha; Paternoster 20-21 Young Hearts; Hopefield 24-38 Vredenburg; en Velddrif 35-27 Langebaan. Hierdie naweek speel Saldanha op sy tuisveld teen Hopefield en hy sal op sy sukses wil voortbou.
Young Hearts sal Piketberg se kis op die grafkelder wil laat sak terwyl Mamre na Paternoster reis. Langebaan kom op sy tuisveld teen die onoorwonne St. Helena te staan terwyl Vredenburg ’n omgekrapte Velddrif sal onthaal.





