St. Helenabaai het Saterdag die besoekers met rotsvaste verdediging in toom gehou. Foto: Noluvu Ludidi


Met nog een wedstryd oor in die eerste ronde is St. Helenabaai nou die alleenvoorloper op die punteleer in die Weskus-streek nadat die span Saterdag Young Hearts met die kous oor die kop terug Pella toe gestuur het. Met ’n onplesierige wind agter die blad het die tuisspan die stryd 34-10 beklink.

St. Helenabaai het die wedstryd reeds in die eerste helfte beklink toe die span, wat die meeste van die verdediging moes doen, rustyd 31-0 voor was. Die tuisspan, wat die meeste van sy punte teen die verloop van spel aangeteken het, is egter in die vaste skrums en lynstane deur die besoekers ore aangesit. Die tuisspan het egter nooit opgegee nie en die besoekers se agterlyn met ware karakter en veggees in toom gehou.

Die tweede helfte het nie baie opwinding vir die tuisspan ingehou nie en die besoekers het twee onverdoelde drieë teenoor die tuisspan se strafskop behaal. Die tuisspan het egter gewys hoekom hy steeds onoorwonne is toe die span se 13 spelers hul hart en siel op die spel geplaas het en sodoende die besoekers weerhou het om enige verdere punte aan te teken.

St. Helenabaai reis Saterdag na Velddrif om sy eerste ronde te voltooi en nog ’n oorwinning wink vir die span van Ivan Williams.

Saldanha het Saterdag op sy tuisveld die derby teen Vredenburg maklik 27-8 gewen. Saldanha, wat Saterdag op sy tuisveld die omgekrapte Young Hearts sal moet tem, het egter gewys dat spanne hare op hul tande sal moet hê as hulle daar wil wen.

Langebaan het ’n broodnodige oorwinning oor Piketberg behaal toe die span met 25-14 maklik baas was. Hy reis Saterdag na Hopefield om sy eerste ronde af te sluit.

Hopefield het Saterdag op sy tuisveld 29-31 teen Mamre vasgeval.

Die oorwinning kon nie op ’n beter tyd vir die groen truie kom nie en die span onder leiding van Kenny Stadler onthaal die Burg Boys Saterdag.

Paternoster, wat dié naweek ’n loslootjie geniet, het Velddrif Saterdag 29-24 geklop.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article