St. George’s het die tweede Mamre-OK-gemeenskap-7’s-toernooi gewen toe hy Hillcrest 22-7 in die eindstryd geklop het.
St. George’s, wat verlede jaar in die eindronde teen die gasheer, Mamre, vasgeval het, het Saterdag egter beter voorbereid opgedaag en ten spyte van ’n nederlaag in sy eerste wedstryd teen die mede-gasheer, Hamlets, steeds genoeg in die tenk oorgehad om met die louere weg te stap. Die verdedigende kampioen, Mamre, se lang rugbyseisoen het gewis sy tol geëis. Terwyl baie spanne weke gehad het om voor te berei, het die groentruie van Kenny Stadler weens Top-12-verpligtinge slegs ’n week gehad. Mamre het wel die toernooi goed begin, met ’n 26-19-oorwinning oor Strand.
Die verdedigende kampioen het egter daarna in sy laaste groepwedstryd 10-19 teen Kylemore vasgeval. Strand het die verdedigende kampioen se toernooi versuur met ’n 19-14-oorwinning oor Kylemore en die twee spanne het danksy ’n beter punteverskil deurgedring, wat die verdedigende kampioen uit die wedloop geboender het.
St. Helenabaai se toernooi het nie goed afgeskop nie en die span uit die Agterbaai het teen die studente van KPUT 0-26 vasgeval. Die span het egter daarna hul plek in die laaste 16 verseker met ’n 14-7 oorwinning. Die Agterbaaiers kon egter nie hul kanse vir die gesogte prysgeld lewendig hou nie en het teen Hillcrest 5-14 vasgeval.
Mamre het in die Bowl-afdeling tot in die eindronde gevorder, waar hy 15-22 teen Hand and Hearts vasgeval het.
Young Hearts en Atlantis se paaie het in die plaat-kwarteindstryd gekruis met Ruben Abels se troepe wat 22-5 baas was.
Die manne van Pella het egter in die plaat-halfeindstryd teen Macassar vasgeval, wat Kylemore daarna in die eindstryd 26-7 geklop het.
St. George’s het Strand se toernooi in die een halfeindstryd beëindig terwyl Hillcrest die slimmes van die UWK uitoorlê het, met St. George’s wat die eindstryd en R30 000-prysgeld met sy oorwinning oor Hillcrest gewen het.





