Toewyding en harde werk het verskeie geleenthede oor Storm Atkins (19) se pad gebring.
Dié kranige sportman van Lambertsbaai het in 2024 by die Rugby Travel Academy aangesluit en van daar af al hoe meer begin skitter. Hy is in Maart vanjaar gekies om saam met ’n groep Frankryk toe te gaan om rugby-ervaring op te doen en aan toetse deel te neem. Die koste het R50 000 beloop, wat deur geldinsamelings moontlik gemaak is.
Atkins is in Junie weer gekies vir die Rugby Travel Academy se Suid-Afrikaanse internasionale rugbyspan wat van Vrydag 13 tot Sondag 22 Desember by die Wêreld-skolefees in Doebai speel. Hy is ook genooi om deel te wees van SA Central Invitational se Emerates Rugby se 7’s-toernooi wat van Woensdag 27 November tot Maandag 4 Desember ook in Doebai plaasvind. Om hierdie geleenthede ’n werklikheid te maak, het Atkins egter die hulp van die gemeenskap nodig vir finansiering. In hierdie stadium het hy sowat R75 000 vir albei toere nodig.
Atkins vertel dat hierdie geleenthede vir hom die wêreld sal beteken. “Want ek kom van ’n klein Weskus-dorpie, Lambertsbaai, en dit kan ook baie deure vir my in die rugby-wêreld oopmaak.”
Sy liefde vir rugby het op vyfjarige ouderdom begin.
“Toe ek my eerste rugbybal op my vyfde verjaarsdag kry, het ek gemaklik gevoel met die bal en geweet dis iets wat ek eendag wil doen. Ek het op laerskool begin rugby speel en ook gereeld saam met my pa rugby gekyk. Toe ek self rugby begin speel, het ek besef dit is iets wat ek gewis eendag wil doen.”
Sy ouers, Sinclair en Veroghen Atkins, sê as sy ouers ondersteun hulle hom 150%. “Soos elke ouer wil ons ook maar net die beste vir ons kind hê. Ons motiveer hom altyd deur te sê hy doen dit vir homself en nie vir ander nie. Rugby beteken alles vir hom en vir wat hy al bereik het, kom God al die eer toe,” vertel hulle.
Dit sal vir die familie baie beteken as die gemeenskap en Suid-Afrikaners hul harte oopmaak om die jongman te help op sy pad om die droom ’n werklikheid te maak.
Indien jy ’n skenking wil gee, kontak Sinclair gerus bedags by 078 581 5147.





