Spiertier vertel van harde werk ná Mnr. Heelal-liggaamsbou-kompetisie

Natus du Preez op die verhoog by die Mnr. en Mev. Heelal-liggaamsbou-kompetisie.


Mense het dikwels ’n wanpersepsie oor liggaamsbouers – ’n stigma wat Natus du Preez graag sal wil regstel.

’n Groot stap in die regte rigting was sy onlangse deelname aan die Mnr. en Mev. Heelal-liggaamsbou-kompetisie in Italië, wat hy as ’n persoonlike prestasie beskou. Du Preez het by dié geleentheid die derde plek behaal.

Om vir dié kompetisie te kwalifiseer, het die St. Helenabaaise liggaamsbouer in November 2023 aan die United Intercontinental Bodybuilding Fitness Federation se wêreldkampioenskap deelgeneem en in sy afdeling gewen. Daarmee het hy sy professionele kaart ontvang.

Du Preez verduidelik wanneer ’n liggaamsbouer ’n professionele kaart ontvang, mag hy of sy net aan professionele kampioenskappe deelneem, en net ’n beperkte aantal is elke jaar beskikbaar.

“Met die gedagte in my agterkop dat ek met liggaamsbouery begin het om aan mense ’n punt te probeer bewys –dat ek soos Arnold Schwarzenegger sal lyk – was die idee om my wêreldkampioen­­skapstitel op te volg met Mr Universe, die titel waarvoor Arnold die bekendste is,” vertel Du Preez.

Sy liefde vir liggaamsbou het eintlik per toeval begin. Du Preez was sy lewe lank baie sportief en daagliks in die gimnasium, maar ná die geboorte van sy tweede kind het hy in ’n gemaklike en lui lewenstyl verval waar gesond eet en oefen nie ’n prioriteit was nie. “Ons het toe een aand saam met vriende gesit en ek het ’n bier op my boepens gebalanseer. Almal het gelag en gesê ek het ’n skilpad. My antwoord vir almal was ‘lag maar; julle sal sien oor ses maande is ek Arnold Schwarzenegger’.

“Ek is ’n hardkoppige mens wat nie graag verkeerd bewys wil word nie, dus het ek skouer aan die wiel gesit om ’n punt te bewys, maar baie vinnig het die liefde en passie vir die lewenstyl beheer geneem en my in die rigting van mededingende liggaamsbou gestuur.”

Party mense het ’n negatiewe beskouing van liggaamsbou, maar Du Preez voel anders. “Baie mense glo liggaamsbouery bestaan net daaruit om verbode middels in jou are te spuit, met ’n groot ego rond te loop en nare kreature te wees. Die werklikheid is dat liggaamsbouers die hulpvaardigste mense is. As al die ander mense koeksisters en hamburgers eet, moet jy met jou bordjie rys sit, want as jy dit nie doen nie, gaan jou lyf nie saamwerk nie.

“Ons weet dat as jy ’n oefening op die verkeerde manier doen, dit teen jou guns sal tel. As gevolg van die harde klippe wat ons moet kou, en lesse wat ons dikwels op die harde manier moes leer, is ons altyd bereid om ander te help sodat hulle nie hoef te sukkel nie.”

Met sy professionele kaart, twee wêreldkampioenskappe en ’n derde plek by Mnr. Heelal, glo Du Preez hy het baie meer in die sport bereik as wat hy ooit sou kon dink.

Vir nou wil hy net fokus om die beste weergawe van homself te skep en aan die liggaamsdele wat hy wil bevorder, te werk.

“Sodoende kan ek wys waar ek begin het en hoe ver ek gekom het vir myself, my kinders, elke lid van PalmActive Gim en enigeen wat met my in aanra­king kom. Jy kan alles bereik as jy in jouself glo, aanhou en nie opgee nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article