Twee mans wat ’n spaza-winkel in Witteklip beroof het, is vinnig deur lede van die Vredenburg-speurtak vasgetrek.

Volgens kapt. Tania Helfrich, woordvoerder van die Vredenburg-polisie, was die twee slagoffers van die roof Donderdag 21 Julie skuins voor middernag aan die slaap toe ’n geraas buite hul spaza-winkel hulle wakker gemaak het.

Een van die slagoffers het opgestaan ??om te gaan ondersoek instel. Buite die winkel het twee gewapende rowers hom ingewag. Die boosdoeners het hom summier in die winkel teruggedwing.

Een van die rowers het ’n vuurwapen by hom gehad en die ander een was met ’n panga gewapen.

Die rowers het met ’n selfoon, R9 000 kontant en sigarette ter waarde vanR5 000 gevlug.

Volgens Helfrich het een van die slagoffers aan die polisie gesê hy het een van die rowers herken.

Op Vrydag 22 Julie het speurders van Vredenburg inligting ontvang dat die rowers na Paternoster gevlug het. Met die hulp van die gemeenskap is die verdagtes in ’n taxi onderweg na Vredenburg opgemerk. Die speurders het die taxi gevolg en daarin geslaag om die bestuurder te oortuig om stil te hou. Die rowers is op die plek in hegtenis geneem.

Foto’s van die verdagtes is aan die slagoffer gewys wat gesê het hy het een van die mans herken. Hy het die verdagtes positief uitgeken as die mense wat hom en sy vriend beroof het.

Die vermeende rowers, onderskeidelik 29 en 27 jaar oud, het Maandag op aanklag van sakeroof in die Vredenburg-landdroshof verskyn.

“Die polisiebeamptes wat betrokke is, word geprys vir hul toewyding om die misdadigers voor die gereg te bring,” het Helfrich gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article