Die NG kerk Vredenburg se Moedergemeente bring op 28 Augustus om 16:00 lof aan God vir 120 jaar genade aan die Weskus met ’n feeskonsert in die kerkgebou.
Geen steen is onaangeraak gelaat om hierdie feeskonsert ’n hoogtepunt te maak nie. Die Weskus se trots, die Weskus-jeugorkes, gaan die historiese kerk vul met jubelklanke en talle plaaslike soliste gaan hul musikale en sangtalent gebruik om luister aan dié geleentheid te verleen.
’n Hoogtepunt op die program is die orreluitvoering van dr. Gerrit Jordaan, wat van George kom. Jordaan is een van Suid-Afrika se mees toonaangewende uitvoerende orreliste en ’n bekende by internasionale geleenthede. Hy is onlangs in België geprys vir sy virtuose vaardighede toe hy Suid-Afrikaanse simfoniemusiek in Turnhout op ’n 1662-Barokorrel uitgevoer het. Hy word wyd geprys vir sy aantreklike programme en kreatiewe inkleding. As lid van Obelisk en met vyf bundels koraalverwerkings van Suid-Afrikaanse komponiste op sy kerfstok, lei hy ’n aktiewe musieklewe.
Hy is opgewonde om sy repertoire in die Moedergemeente se akoesties-vriendelike ruimte aan te bied en sal ook ’n ensemble van plaaslike sangers begelei wanneer hulle die gewilde Ambrosiaanse lofsang tydens die verrigtinge by die oggenddiens vertolk.
Weskussers word genooi om saam in die skoonheid van die geleentheid te kom deel. Kaartjies kos R100 vir volwassenes en R50 vir kinders onder 18 en is by Suselna by 083 232 4163 of vredngk2@imaginet.co.za beskikbaar.



