Suster Bernie Fransman, Roslyn Beukes (administrateur), Helen Blom (verpleegster-assistent) en Roxaan Nel (navorsingsverpleegster) is lid van die span wat TB-navorsing doen. Ook lid van die span, maar afwesig, is Melvin Collins.Foto’s: Yaël Malgas


Wêreld-TB-dag is Donderdag (24 Maart) in Diazville met gratis TB-toetse as deel van ’n navorsingsprojek gevier.

Navorsers van die Universiteit Stellenbosch is besig met studies oor tuberkulose in die Weskus wat die span hoop vir verskeie projekte gebruik sal word.

Volgens Rozaan Nel, navorsingsverpleegster, is verskeie klinieke deel van die navorsing. Werk word in samewerking met die Hanna Coetzee-, Louwville-, Diazville- en Saldanha-klinieke gedoen.

Die agt maande lange projek sal Nel en haar medenavorsers moontlik help om verskeie gevolgtrekkings te maak vir onder meer toekomstige behandelingsmodelle en inentings.

“Ons het gemeenskapswerkers en doen huisbesoeke en siftingstoetse. Die terugvoer uit die gemeenskap is baie positief en vandag voer ons ook gesprekke met ander belanghebbendes oor TB asook ander gesondheidsake,” verduidelik Nel oor Donderdag se program.

Die Biomediese Navorsingsinstituut se kliniese span werk nou met die res van die Immunologie-navorsingsgroep en is tans besig met 11 verskillende studies.

Die studies behels die werwing van vrywillige deelnemers uit gemeenskappe met ’n hoë voorkoms van TB.

Benewens die Weskus word navorsing ook by 13 klinieke in onder meer Kaapstad en Paarl gedoen.

Volgens Terené Booysen van Diazville het sy op Wêreld-TB-dag die plaaslike kliniek en die navorsingspan besoek vir haar eie gesondheid. “Sover ek weet het ek nie TB nie, maar ek het gekom vir my gemeenskap en my gesin se gesondheid. Ons het ook na die praatjie geluister wat baie interessant was,” meen Booysen.

Tuberkulose is een van die provinsiale departement van gesondheid se fokus-gesondheidskwessies. Die departement het verlede September ’n digitale platform geskep om spesifiek tred te hou met TB-gevalle in die provinsie.

Volgens dié platform het die Weskus-streek meer as 3 500 gevalle van TB met 156 van dié gevalle wat weerstandige TB is.

Die uiteensetting van die streek se TB-gevalle was 801 in die Swartland, 818 in Matzikama, 786 in Saldanhabaai, 735 in Cederberg en 545 gevalle in die Bergrivier-gebied, teen Dinsdag 15 Februarie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article