Langebaan se weskus-wind is ’n groot trekpleister vir vlieërplankryers.Foto: Yaël Malgas


Mooi blomme, die Weskus-windjie en ’n dorp vol kunstige Weskussers – dit is wat Langebaan en Jacobsbaai in gemeen het.

September is Erfenismaand, en as deel hiervan fokus Weslander op verskeie van die streek se trekpleisters en geskiedkundige besienswaardighede. Vandeesweek, die laaste week van September, is die fokus op Langebaan en Jacobsbaai.

In Jacobsbaai sal besoekers feetjies en kabouters by die Pixie & Fairy Village aantref – die klein gesiggies van die tower-mensies skuil weggesteek tussen die plante, agter ’n boomstomp en in hoekies.

Die dorp is ook die ideale plek om die Weskus se mooiste blomme te besigtig met die see in die agtergrond. Gaan stap op die grondpaaie, en naweke kan stappers selfs hul stappie met ’n draairoomys afsluit.

Van die mooiste blomme is ook by die Jacobsbaai-bionatuurreservaat te sien. Hier is nie net staproetes nie, maar ook braaigeriewe vir ’n luilekker braai en piekniek. Maak sommer ’n draai by die Karmenaadjie-padstal om die piekniekmandjie vol te maak. Alles van roosterkoeke en springbokvleis tot sousbone kan hier gevind word.

Die gewilde Langebaan bied baie om te sien en te doen.

Leer meer van die Weskus se oergeskiedenis deur ’n besoek aan die Weskus-fossielpark op die R45 naby Langebaanweg. Van die fossiele is tot sowat 5,2 miljoen jaar oud. Begeleide toere word gedoen en ’n koffiewinkel is op die perseel.

Besoek Club Mykonos en die Mykonos-casino om die oord se swembaddens, ’n binnenshuise verhitte swembad, spa, tennisbane, vermaak vir die jongspan, watersport en restaurante te geniet.

Noudat die warm weer terug is, swem in die helder blou waters van Kraalbaai in die Weskus Nasionale Park. Pak jou piekniek­mandjie en bring ’n dag in die reservaat deur om die streek se wild en natuur­skoon te geniet. Kraalbaai herinner ’n mens aan ’n Griekse eiland. Die water is warm en deursigtig blou.

Die dorp het talle eetplekke, dus sal daar gewis iets vir elke smaak wees.

Besoekers wat op soek is na ’n bietjie aksie kan gerus leer vlieërplank ry (kitesurfing). Besoekers van veral Europa kom gereeld om op die Weskus-windjie te ry. Die hele gesin kan ook die vet pret van voetgholf by die Langebaan Country Estate (LCE) se Mashie-gholfbaan geniet.

Jy hoef nie eens jou eie gholf­stokke te hê nie.

Diegene wat na ’n bietjie inspirasie op soek is, kan gerus die Langebaan-kunsroete volg. Kunstenaars wat in pottebakkery, fotografie, skilder en sketse spesialiseer, is alles deel van die roete. Besoekers kan ook ’n draai by ’n ateljee maak en die kunstenaars in hul element aan die werk sien.

Speel vandeesmaand ’n bietjie toeris in jou eie streek en besoek dié dorpe.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article