“Ons het wonderwerke gesien, soos die wind wat die vlamme in stoppellande injaag en dan brand dit nie.”
Só gesels Marlize Rossouw van die plaas Voëlvlei op Piket-bo-berg, wat deur verlede week se reuse-bergbrand geraak is. “Ons het baie genade ontvang, want dit kon baie anders gewees het.”
Die brand het volgens Rossouw die week vantevore reeds bo-op die berg op die plaas Voorstevlei begin. Die omliggende plaasmense was bewus daarvan, en teen Vrydag 2 Februarie het sy en haar man, Daniël, gery om te kyk waar die vlamme op die berg trek. “Dit is moeilik om van onder af te sien waar dit trek. Dit was toe nog ’n entjie van die berg se rand af.”
Hulle grond loop tot teen die rand.
Saterdag 3 Februarie het ’n sterk wind opgekom, die vlamme oor die bergrand geblaas en die brand het afgekom oor die plaas Kleinevogelvallei, waar die Rossouws saaigronde huur. Van hier het die vlamme oorgegaan na hul plaas – een van drie Voëlvlei-plase wat al geslagte lank aan Rossouws behoort. Die ander Voëlvlei-plase is ook deur die brand geraak.
‘ongelooflike samewerking’
Vandaar is dit ’n ent in die kloof op na die plaas Steenbrug toe.
Rossouw staan verstom oor die wonderwerk dat die vlamme self uitgebrand het voordat dit die opstal kon bereik – net soos op die plaas Groenkloof, waar die vlamme in ’n kloof op pad na die opstal en ander geboue net bo die geboue uitgebrand het.
Nog ’n plaas wat deurgeloop het, is Stawelklip.
Volgens Matthew Sheldon, ’n woordvoerder vir die Bergrivier-munisipaliteit (BM), het ’n sterk wind die brand Dinsdag 30 Januarie na die plase Buglers’ Post, Pomona en Voorstevlei laat versprei.
Niemand het volgens Rossouw reuseskade gely nie, behalwe teeplante wat in die slag gebly het toe grond vinnig omgeploeg moes word om brandpaaie te maak. Daar is ook geringer skade, soos waterlyne wat beskadig is, maar Rossouw meen dit is alles vervangbaar. “Dis die minste.”
Volgens Rossouw, wat al 32 jaar op die plaas woon, het die berg 31 jaar laas só gebrand.
“Baie mense was vinnig by om te kom help. Die samewerking was ongelooflik.”
Die hele gemeenskap – tot van Velddrif af – het deurentyd kospakkies, kitskos, water, energiedrankies en ander lafenis vir die brandslaners aangedra.
“Ons het weer gesien ons gemeenskappie kan nogal saamstaan. Dorpsmense het met kinders en bakkies opgedaag en almal het gehelp brandslaan. Dit was amazing, mooi om te sien hoe almal saamwerk . . . ’n groot donker wolk met baie silwerrandjies.”
Die oorsaak van die brand is volgens Sheldon nog nie bekend nie.
Sowat 30 brandbestryders van BM en die Weskus-distriksmunisipaliteit het onvermoeid gewerk om die brand uiteindelik op die Tierkloof-plaas onder bedwang te bring.
’n Helikopter is ook dié dag ingespan om brandbestryders te help om die vlamme onder bedwang te bring en te blus.
Rossouw is dankbaar dat die dam op die plaas Kleinevogelvallei, waaruit die helikopter moes water skep, reg langs die oudste natuurlike olienhoutbos in die land was.
“Hulle kon net skep en gooi.”
Dié bos, ’n historiese gedenkwaardigheid, het net gedeeltelike afgebrand.
Brandslaners hou aan
Brandbestryders het steeds onvermoeid gewerk om uiteindelik die brand reg aan die voet van die berg te stop.
Hoewel brandbestryders soos die Werk met Vuur-span van die departement van omgewingsake die res van die week brandpunte in die gebied moes hanteer, het geen verdere “brandvingers” ontwikkel nie.
Teen Woensdag 31 Januarie was die meeste plekke waar dit nog gesmeul het, geblus.
Geen beserings is aangemeld nie.
Die BM het bevestig hy hou die situasie noukeurig dop sodat gou met enige opvlammings klaargespeel kan word.
Rossouw het gesê hulle het brandstroke in samewerking met die Werk met Vuur-personeel gemaak, wat gekeer het dat die vlamme te ver af ondertoe kom.
Dit is egter in sekere bergagtige dele van die berg onmoontlik om te doen.





