Die Langebaan-rugbyklub het Vrydag sy nuwe uniform onthul. By die geleentheid was David Voster (Langebaan Storage), Leon Cekico, Luis Viera De Sousa (Die Watergat), Johan Swart (klubvoorsitter), Thys Smith, Marco Esteves (Roxi’s Bar) en Ricardo Makka (kaptein). Foto: Yaël Malgas


Sakelui in Langebaan het Vrydag hul plaaslike rugbyspan se harte bly gemaak met ’n skenking van nuwe rugbyklere.

Die Langebaan-rugbyklub se eerste span draf nou op die veld in ’n spoggerige nuwe uniform danksy die ondersteuning van Roxi’s Beach Bar, Die Watergat en Langebaan Storage.

Johan Swart, die klub se voorsitter, het die spelers by die bekendstelling by Langebaan Boutique Hotel aangespoor om die dorp met trots te verteenwoordig en hul nuwe borge trots te maak. Volgens Swart is elke speler, asook die bestuur, daar om die klub te dien.

David Voster is een van die borge en het vier jaar lank self op die veld vir die klub uitgedraf. Hy meen enigeen wat vir die klub speel, doen dit vrywillig en dit is gewis ’n hartsaak.

Leon Cekico meen die beste manier vir hom en sy medespelers om hul waardering vir die skenking te toon, is om hul wedstryd te wen. “Dit is baie bekend dat ’n ding net kan werk as die fondasie sterk is, en die skenking en jul belegging in die klub is gewis deel van ’n goeie fondasie. Ons hoop hierdie is net die begin van ’n vennootskap waarin ons en sakelui hand aan hand kan saamwerk,” meen Cekico.

Swart het op sy beurt nie net die borge bedank nie, maar ook die gemeenskap wat agter die span staan.

Charlton Nieuwoudt, lid van die klubbestuur, meen dit is juis die rugbyspan wat die gemoed van die dorp op ’n Saterdag bepaal. “ ’n Wen is ’n wen vir die hele gemeenskap. Wanneer die span wen, vier hulle dit by Die Watergat, so dit is besigheid vir julle. Wanneer ons verloor, verloor die kuierplekke ook,” het Nieuwoudt tong-in-die-kies gesê.

Die klub het ook Duferco en Terence Brown van Sea Harvest, wat sweetpakke vir die klub aangeskaf het, bedank.

Die klub het ook die bestuur van die boetiekhotel vir die skenking van hul lokaal bedank.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article