Die openingskolwers Chad Ayford en Eathan Cunningham het ’n goeie grondslag vir die Krewe in die kwarteindstryd op Bolandpark in die Superliga gelê.Foto: David Rossouw


Met die Betway SA20-eindstryd by die Wanderers nou agter die rug en die trofee trots in MI Cape Town se besit, het die Boland-Superliga-T20 op 29 Januarie op Bolandpark begin.

Hier het die vyf voorste krieketklubs van Boland Krieket fel om die gesogte topprys in die Boland meegeding.

Die Krewe het in sy eerste twee uitspeelwedstryde met indrukwekkende oorwinnings geseëvier, maar is deur ’n kragtige Maroenspan oorweldig. Voordat die Krewe kon hergroepeer, het die Maties al die suurstof uit hul tenks geput en hulle met gedempte gemoedere teruggestuur Krewepark toe nadat hulle met agt paaltjies verslaan is.

Ten spyte van die uitdagings het hul vasberadenheid net sterker geword, wat daartoe gelei het dat hulle ses uit agt wedstryde kon wen en ’n plek in die halfeindronde losgespeel het.

Hul laaste wedstryd teen Worcester United op 10 Februarie was bloot ’n formaliteit, aangesien hulle reeds hul plek in die halfeindronde verseker het deur in die tweede plek te eindig.

Thomas Kannemeyer, die kaptein, het die loot in die deurslaggewende uitspeelwedstryd gewen en gekies om eerste te kolf.

Dit het aanvanklik geblyk dat hy dalk ’n verkeerde keuse gemaak het, aangesien Worcester United daarin geslaag het om die Krewe tot ’n telling van 125/9 te beperk.

Worcester United het die wedstryd aggressief begin en dit het gelyk of hy die wedstryd vroeg wil beëindig en met die telling op 91/4 was hy goed op koers.

Die Krewe het egter die verloop van die wedstryd dramaties verander deur vyf vinnige paaltjies te eis, wat die momentum in hul guns verskuif het.

In net agt lopies het die Krewe se Giovanni Hulley (1) en Kannemeyer (1) twee vinnige paaltjies laat kantel. Met die toevoeging van André Hanekom tot die boulaanval het hy Worcester se stertkolwers met sy draaiaflewerings geknoop en drie paaltjies vir slegs 10 lopies geneem. Agt lopies later het Worcester hulle in ernstige moeilikheid bevind, met die telling op 119/9.

Marshin Jeftha het probeer om ’n enkellopie te steel, maar Neil Lochner het seker gemaak dat hy nie terugdraai nie en hom reguit stort toe gestuur deur hom uit te hardloop.

Die Krewe het met die oorwinning van ses lopies verseker dat hulle die Paarl in die tweede halfeindstryd gister (Woensdag 12 Februarie) om 18:00 op Bolandpark sou pak, terwyl die verdedigende kampioene, die Maties, Young Peoples om 14:00 in hul halfeindstryd aangedurf het.

Die wenners van die twee halfeindstryde pak mekaar vandag (Donderdag 13 Februarie) om 18:30 om te bepaal wie die Boland-T20-kampioen vir 2025 sal wees.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article