Ek is die afgelope week weer op die pad met my werk, van voorstad tot voorstad. In Macassar hou ek stil vir ’n gemeenskapstorie by die plaaslike daghospitaal. Dis ’n koue dag in die Helderberg, die wind waai, ’n koue-windjie en dit reën.
Ek stap in by die daghospitaal, op soek na ’n spesifieke persoon, maar haar foon is af, so ek stap en soek haar en vra vir hierdie een of hulle haar ken en vir daardie een of hulle haar ken. Ek is van bakboord na stuurboord gestuur en die volgende persoon weet ook nie wie die vrou is na wie ek soek nie.
Ek stap verby ’n wagkamer, maar anders as in ander gebiede is die wagkamer buite. Die hospitaal het wel die kante van die oop vertrek en die dak oorgetrek met ’n seildoek- of tent-materiaal om die ergste van die elemente uit te hou.
Ek let egter dadelik op dat almal se gesigte hang. Dis ’n sombere affêre – amper soos om jou liksens te gaan hernu; niemand geniet dit nie. Wat sake bemoeilik, is dat die wind wat buite so guur waai, deur openinge in die tent kom. Die wagtende mense se gesigte hang, dis koud, dis aaklig.
Ek sou ook nie geglimlag het as ek in sulke omstandighede moes wag om ’n dokter te sien nie.
’n Paar minute daarna kry ek die vrou na wie ek gesoek het. Ons praat, ek kry my inligting en foto’s en ek is weer op pad na die volgende afspraak.
Die afspraak is by die Ou Civic-sentrum in Macassar. Dis ’n saamtrek wat deur Reach Out To Others (Roto) gereël is met die doel om inwoners se bloeddruk en suikervlakke te toets.
Ek stap in en die atmosfeer is ligter hier binne. Die mense is ook hier vir mediese redes, dus is ’n paar van hulle seker hier vir die appels, broodrolletjies en konfyt-doughnuts wat op die tafel uitgepak lê.
Agter in die saal sit drie manne; een agter ’n paar tromme, die ander met ’n kitaar en die derde sit agter die klavier. Die manne is hier om musiek te maak.
’n Verpleegster met ’n paar Nike-tekkies aan kom na vore, groet almal baie vriendelik en wys ’n shap in die rigting van die orkes.
Die orkes se manne begin Eddy Grant se “Gimme Hope, Jo’anna” speel.
Dis asof die orkes se musiek ’n geneesmiddel teen kanker is, want een vir een staan die mense wat in daardie blou plastiekstoele sit, op. Hulle begin een vir een saam met die musiek te dans.
Dis ’n heerlike atmosfeer. Almal dans, lag en klap hande. Hulle is hier om hulle bloeddruk en suiker te laat toets, maar almal lag en dans.
Dieselfde verpleegster wat almal aangehits het om te begin dans, stap nou oor na die kostafel. Sy vat ’n vierkantige skinkbord en begin sorgvuldig een vir een die appels daarin te pak. Die mooiste appels. Sy kyk deur die appels en dié wat lelik is, met vrotkolle op, los sy agter. Sy kies net die mooiste appels.
Toe die skinkbord heeltemal vol is, stap sy tussen die mense deur met die mooi appels.
Almal dans, almal lag, almal is gelukkig. Die atmosfeer is hemels. Hierdie sêding beskryf die mense by die funksie so mooi: “Your attitude, not your aptitude, will determine your altitude.”
By my eerste afspraak het die mense vasgekyk teen die donker wolke aan die buitekant, die koue wind. By my tweede afspraak het die mense saam gedans toe die musiek speel.
By die eerste afspraak was elkeen op sy eie stoel, wagtend op die dokter. By my tweede afspraak was dit dieselfde storie, elkeen moes op sy eie stoel wag om hul bloeddruk en suikervlakke te laat toets, maar toe die musiek begin speel, toe staan almal saam op en dans. Daar was nie ’n klomp individue nie, maar almal was een, almal het saam gelag en saam gedans.
. Rick Marais is ’n verslaggewer by Weslander se susterskoerant DistriksPos & Helderberg Gazette wat in die Helderberg-streek versprei.





