’n Vredenburger se plan om minder vir elektrisiteit te betaal, het ’n terugslag gekry aangesien sy munisipale rekeninge steeds duisende rande beloop.

Theuns Erasmus het in Desember ’n nuwe sonpaneel-stelstel aangebring om minder afhanklik van Eskom te wees en ook om ’n paar rand te spaar. Dié plan het egter nie gewerk nie en Erasmus sê sy elektrisiteitsrekening oor die afgelope maande was altesaam byna R80 000.

“Deur die dag gebruik ek glad nie munisipale elektrisiteit nie. Ons is drie in die huis, en hoewel ek ’n koelkamer het, kan ek nie glo die kragrekening kan só hoog wees nie. Die koelkamer word nie eens altyd gebruik nie.

“Dit is slegs in die nag, om en by 03:00, dat ek munisipale elektrisiteit gebruik, maar dan is dit ook net tot 06:00 wanneer die sonkragstelsel weer inskop,” het hy aan Weslander verduidelik.

Erasmus het sy buurman, Ben Strydom, om hulp gevra aangesien Strydom die stelsel geïnstalleer het en self ook van sonpanele gebruik maak.

Strydom, ’n gekwalifiseerde installasie-elektrisiën, meen daar is gewis fout tussen die Saldanhabaai-munisipaliteit se lesings en sy buurman se verbruik.

“My stelsel is kleiner as syne [Erasmus s’n] en my munisipale kragrekening is minimaal – ’n paar honderd rand in vergelyking met sy duisende,” sê Strydom.

Volgens Strydom het hy self lesings by Erasmus se kragboks en sy eie gedoen en volgens wat hy kan waarneem, gebruik hulle geen munisipale elektrisiteit deur die dag nie.

Inteendeel, albei se stelsels wek meer elektrisiteit op as wat hulle verbruik.

By navraag het Ethne Lawrence, ’n munisipale woordvoerder, gesê ná ’n ondersoek is geen fout aan die Saldanhabaai-munisipaliteit se kant gevind nie en Erasmus sal steeds sy elektrisiteitsrekening moet betaal.

“Die probleem wat nie opgelos is nie, is die verbruiker se probleem. Die raad kan egter nie verbruikers se probleme sonder kostes hanteer nie, dus moet mnr. Erasmus ’n ingenieur op eie koste aanstel om sy probleem uit te klaar.

“Mnr. Erasmus se fout is wel sonder koste deur die raad ondersoek, hoewel sy stelsel nie – soos voorgeskryf is – by die raad geregistreer is nie, en steeds nie is nie. Enige verdere ondersoeke sal teen volle betaling geskied,” het sy verduidelik.

Volgens Lawrence het die munisipaliteit bevind Erasmus is nie geregistreer vir terugvoer van elektrisiteit nie, maar sy stelsel het duidelik teruggevoer in die munisipale netwerk.

“Sou die eienaar sy stelsel geregistreer het, sou die korrekte meter geïnstalleer gewees het. Ná installasie van die korrekte meter word ’n afsluiting van die vorige meter gedoen, en omdat die meterlesings een maand laat gehef word, het die eienaar dus in Maart vir twee maande se verbruik betaal.

“Dit is normaal vir alle verbruikers wat afsluit, omskakel en van meter verander,” het sy verduidelik.

Erasmus sê op sy beurt hy is bereid om sy munisipale rekening te betaal solank die probleem met sy lesing eens en vir altyd uitgesorteer word. Hy meen indien daar fout met sy lesing is, is daar dalk ook fout met inwoners s’n waarvan hulle dalk onbewus is.

Lawrence sê indien inwoners alternatiewe elektrisiteitstoevoer gebruik, soos in Erasmus se geval, moet dit by die munisipaliteit geregistreer word.

Strydom sê hy en Erasmus is aangesê om die registrasievorm binne sewe dae in te dien, of hul munisipale elektriese toevoer sal afgesny word. Strydom meen dié aandrang van die munisipaliteit is boelietaktiek.

Hy het vandeesweek aan Weslander gesê hy span nou kenners in om die registrasievorm te bestudeer.

“Indien die munisipaliteit ons elektrisiteit wil afsny, sal hy elke ander inwoner met sonpanele s’n ook moet afsny, want wat vir een geld, geld vir almal,” meen hy.

Die munisipaliteit sê enige inwoner wat vermoed iets is fout met sy elektrisiteitsrekening moet dit by die elektrisiteitsafdeling aanmeld sodat dit tegnies ondersoek kan word, waarna, indien nodig, dit na die finansiële afdeling verwys sal word om die rekening reg te stel.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article