Honde glip by erwe uit, hetsy dit nou ‘n dorpserf of ‘n kleinhoewe se omheining is. As honde kan, sal hulle avontuur kies.
Wat egter op Vredenburg gebeur het, is laakbaar.
Iemand is verantwoordelik daarvoor dat vier Duitse herdershonde by ‘n erf in Muggievlak uitgekom het en hul lafhartige optrede het direk daartoe bygedra dat die honde op ‘n plaas tussen skape beland en doodgeskiet is.
Die kwessie gaan glad nie daaroor of die boer die reg gehad het om hulle dood te skiet nie. Boere word jaarliks derduisende rande skade berokken deur honde wat skape doodbyt of só vermink dat hulle in elk geval vankant gemaak moet word. Dit is nooit vir ‘n boer maklik om ‘n skaap wat reeds deur soveel trauma is, uit sy lyding te verlos nie.
Die eintlike probleem is die venynige, kwaadwillige optrede om iemand in jou straat se honde uit te laat omdat hulle jou irriteer.
Was die herdershonde dan al honde wat in die nag geblaf het?
Wetstoepassingsbeamptes het aan die eienaar wie se honde nou dood is, gesê daar is videomateriaal waar gesien kan word die klaer se hond loop in die nag rond.
Slegte buurmanskap los dié keer ‘n verwonde gesin agter.





