Byna 300 jongmense van Hopland in Vredenburg neem die afgelope drie jaar aan die Hopland-Sondag-rugbyliga deel.
Vanjaar het die Tugela Tigers koning gekraai nadat hulle die Hopland Villagers 41-34 geklop het.
Die eindstryd is verlede Sondag (16 Oktober) beslis.
Die Incredible Connection-span het die seisoen in die derde plek afgesluit en die Spartas in die vierde plek.
Verlede jaar se liga-wenners, die Hopland Barbarians, moes hulle ongelukkig aan die kompetisie onttrek.
“Dit was ’n wonderlike seisoen. Sondae in Hopland is die afgelope paar maande langs die rugbyveld deurgebring. Wonderlike talente is onder die manne openbaar en ek glo hier is spelers wat uiteindelik provinsiaal en eendag selfs vir die Springbokke sal kan speel,” meen Ulrich Ukena.
Ukena en die bestuur van die unie het die liga tydens die covid-inperking gestig. Danksy die unie word 16- tot 21-jariges maande lank besig en uit die strate gehou, verduidelik Ukena.
“Van die jongmense het dwelms gebruik en was lid van bendes. Hier is soveel ongeslypte diamante onder die spelers, en ons probeer hulle meer geleenthede gee.”
Deesdae kom die meeste van die liga se finansiering uit die unie-lede en spelers se sakke, maar Ukena nooi enige belangstellendes om handjie by te sit. Hy sê die liga het veral toerusting vir rugby-oefening nodig.. Vir meer inligting, of om die unie met ’n borgskap of skenking te help, kontak Ukena (die voorsitter) by 076 580 8465 of Izaan Bruintjies by 063 166 2135.



