’n Onwettige vuurwapen, ammunisie en amper ’n kilogram van die opkikker-plant khat, oftewel “boesmantee” of “kletsboom”, is in ’n Somaliër se voertuig gekry.
Hamze Ibrahim (39), ’n Somaliese burger wat in Vredenburg woon, was Saterdag 19 Augustus op pad terug van die Kaap. Die polisie het die voertuig voorgekeer en deursoek nadat inligting ontvang is dat hy nie ’n lisensie vir die vuurwapen en ammunisie het nie, het kapt. Tania Helfrich, woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, gesê.
Die polisie het ’n 9 mm-Pietro Beretta-pistool, een magasyn met 119 mm-rondes en 956,8 g khat in die voertuig gekry. Ibrahim het glo bevestig die vuurwapen en ammunisie behoort aan hom, maar hy kon geen lisensie daarvoor toon nie.
Die khat-plant, waarvan die blare óf gekou of as ’n aftreksel gedrink word, raak al hoe meer gesog onder stropers en smokkelaars omdat dit na bewering opwinding, ’n verlies aan eetlus en euforie by gebruikers veroorsaak.
In Suid-Afrika is khat egter ’n beskermde plant en die gebruik daarvan is onwettig.
Ibrahim het op Maandag 21 Augustus in die Vredenburg-landdroshof verskyn op aanklagte van die onwettige besit van ’n vuurwapen, die onwettige besit van ammunisie en die besit van khat.
. In ’n ander voorval is ses mans tussen 19 en 32 jaar op Maandag 21 Augustus omstreeks 22:40 in Tsitsiratsitsi, Vredenburg, in hegtenis geneem vir die onwettige besit van ongelisensieerde vuurwapens waarvan die reeksnommers verwyder is. Hulle het gister (23 Augustus) in die Vredenburg-landdroshof verskyn.





