Die geleentheid van ’n leeftyd het op die pad van die jong sokkerspeler Alonzo Joseph gekom.
Dié 17-jarige van Yskor het Sondag (3 Desember) na Spanje vertrek nadat hy deur BT Football Recruitment Agency gekies is. Die agentskap se missie is om talentvolle sokkerspelers van oor Afrika heen te identifiseer sowel as om spelers geleenthede by professionele sokkerklubs in Afrika en in die buiteland te bied.
Alonzo sê die dag toe hy hoor hy is vir die proewe gekies, kon hy dit glad nie glo nie. “Ek het eers gedink ek kon beter gespeel het, maar toe ek terugsit en dink, toe besef ek dat dit eintlik ’n groot geleentheid is waarvoor ek letterlik my lewe lank gewag het.”
Sy ma, Haneley Joseph, sê sy kon haarself nie indink dat haar seun so ver met sy sport sou vorder nie. “Deur sy deursettingsvermoë en bereidwilligheid het ek hom aangemoedig om te verbeter en ek is baie trots op hom.
Alonzo speel al die afgelope 10 jaar sokker en vertel alles het begin toe hy ’n video van die bekende sokkerspeler Lionel Messi gesien het, wat sy belangstelling geprikkel het.
Wanneer dit kom by wat sokker vir dié jongman beteken, vertel hy dit is vir hom ’n soort terapie en hy beskou die bal as sy sielkundige.
Alonzo beskou die geleentheid in Spanje as ’n stap nader aan sy sokkerwêreldbekerdroom. Met sy ondersteuningstelsel is hy tot baie in staat.





