Die storm wat om die kop van die ma van die verdwene graadeentjie van Middelpos, Saldanha, losgebars het, kry nou soveel aandag op sosiale media dat dit die eintlike kwessie – Joslin Smith (7) se spoorlose verdwyning – oorskadu.

Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder van die Weskus-polisiedistrik, het Kelly Smith (33), ’n selferkende tikslaaf, Joslin Maandagaand 19 Februarie by die Saldanha-polisiekantoor as vermis aangemeld.

Joslin het ten tyde van haar verdwyning ’n ligblou hempie en ’n denim-kortbroek aangehad.

Sy was nie dié dag by Diazville Primêr waar sy ’n leerder is nie, en is die laaste keer op kringtelevisie saam met ’n onbekende seun omstreeks 14:00 die middag gesien, waar hulle verby die Diazville-kliniek stap.

Die volskaalse soektog deur verskeie eenhede van die polisie is vir eers op ys geplaas tot die uitslag van Kelly en haar kêrel, Jacquin “Boeta” Appollis, se leuenverklikkertoetse bekend is.

Die toetse was nog gister teen druktyd by die Saldanha-polisiekantoor aan die gang.

Niemand het nog vorendag gekom met konkrete inligting oor Joslin se doen en late op dié betrokke Maandag nie.

Sowat 100 gemeenskapslede het Maandagaand 26 Februarie om 21:00 op gewelddadige wyse hul misnoeë te kenne gegee oor wat hulle as Kelly en Boeta se weerhouding van inligting beskou.

Die polisie is ontbied en was volgens Helfrich genoop om die paartjie uit Middelpos te verwyder en in veilige bewaring te hou.

Die gemeenskapslede glo vas dat die ma en kêrel by Joslin se verdwyning betrokke is.

Helfrich doen ’n dringende beroep op die publiek om nie eie reg te gebruik nie. Hoewel die paartjie steeds mense van belang in die saak bly, is hulle nog van geen misdryf aangekla nie.

Die water is verlede week uit dié stroompie langs die huis waarin Joslin gebly het, gepomp in die soektog na die meisie. Wat oorgebly het, was slik, rommel en rou riool.Foto: Alida Buckle

’n Verhoor-deur-sosiale-media, aangevuur deur politici, tiktokkers en inwoners se plasings, het hulle klaarblyklik egter reeds skuldig bevind.

Helfrich het benadruk dat die polisieondersoek van die begin af erg belemmer is deur verskeie vals “leidrade” soos ’n pienk plakkie, wat nie Joslin s’n was nie, ’n “bloedsakkie” en ’n vlak graf, wat op die ou einde net polisiebronne én tyd gemors het, omdat elke liewe “leidraad” opgevolg moet word.

Helfrich maan die publiek en sosialemediabeïnvloeders om nie die polisie se taak te bemoeilik deur allerhande bespiegelings en onwaarhede rond te stuur nie.

“Die ondersoek gaan voort, maar met die verspreiding van vals nuus en leidrade kan ons nie daadwerklik aandag gee aan die fisieke soektog na Joslin nie. Die gemeenskap moet besef indien geen voldoende bewyse bestaan wat tot ’n skuldigbevinding in die hof kan lei nie, die ma en haar kêrel steeds soos slagoffers behandel word.”

Sy beklemtoon dat enige hulp waardeer word, maar op hierdie tydstip meng dit meer met die ondersoek in as wat daadwerklike hulp verleen word.

“Mense met inligting moet dit direk vir die ondersoek­be­ampte stuur, anders word die ketting van bewys verstrengel en is die inligting tweedehands en bykans nutteloos.”

In ’n breedvoerige onderhoud met Kelly op Facebook noem die politikus Gayton McKenzie Joslin se verdwyning ’n “internasionale ramp”. Kelly noem in die onderhoud onder meer dat Boeta nie verlede Maandag alleen by Joslin by hul hokkie was soos wat aanvanklik gesê is nie. Daar was ook twee ander mans.

McKenzie het in die onderhoud sy selfoonkamera gedraai en Kelly se ander twee kinders aan sy aanhangers bekendgestel. Hy het ook ’n beloning van R100 000 uitgeloof vir inligting wat daartoe lei dat Joslin gevind word.

Só ook het André Truter, burgemeester van die Saldanhabaai-munisipaliteit, al vroeër vandeesweekR20 000 uitgeloof.

Indien iemand inligting het om die lede van die eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (FCS) in hul ondersoek te help, bel asseblief speursers. Meyer Milstein, die ondersoekbeampte, by 079 879 8588.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article