’n Lugfoto van Club Mykonos se sonkragaanleg.Foto:


Ekonome van Alexander Forbes het aangedui fase 6-beurtkrag kos Suid-Afrika elke dag meer as R4 miljard.

Naas die nywerheidsektor is die toerismesektor een van die Weskus se belangrike inkomstestrome.

Gereelde beurtkrag het gewis ’n noemenswaardige negatiewe impak op plaaslike hotelle, gastehuise en vakansieoorde. Elektrisiteitsvoorsieningspro-bleme jaag plaaslike sakelui heelwat meer uit die sak, maar ten spyte van die feit dat die plaaslike toerismebedryf steeds met die gevolge van die Covid-19-inperking worstel, oorleef baie van hulle steeds en het hierdie ondernemings nie ’n ander keuse as om aanpasbaar te wees nie.

“Ons is Suid-Afrikaners. Ons is aanpasbaar en so ongerieflik soos dit ook al mag wees, beurtkrag het al deel van ons lewe geword,” het John Kilroe-Smith, hoofbestuurder van die Club Mykonos-vakansieoord Maandag by navraag aan Weslander gesê.

Weslander het by ’n gastehuis, ’n hotel en ’n gewilde vakansieoord gaan aanklop om te hoor hoe hulle hul gaste ten opsigte van beurtkrag akkommodeer sodat die kragkrisis hulle nie onderkry nie.

Kragopwekker word ingespan

Michelle Bongers, bestuurder van die Golden Key-gastehuis in Vredenburg, sê die gastehuis het ’n kragopwekker wat in die 11 gastehuiskamers se elektrisiteitsbehoeftes tydens beurtkrag voorsien. Sy sê gereelde beurtkrag is beslis ’n groot ongerief vir die gastehuis aangesien die brandstof wat die kragopwekker gebruik baie duur is en dit ’n geraas maak wat steurend vir sommige van hul gaste is. “Om die kragopwekker aan die gang te hou kos ’n stewige bedraggie,” het sy erken.

“Sommige gaste verstaan die situasie, maar ’n mens kry altyd jou moeilike gaste,” het Bongers verduidelik.

Olielampies in kamers

Charisma Spamer van die Paternoster Hotel sê hulle gebruik ook kragopwekkers om elektrisiteit aan die hotel se kroeg, voorportaal en gange te verskaf. Die kragopwekkers is egter nie voldoende om krag aan die hotelkamers ook te gee nie.

Olielampies is in die kamers geplaas sodat gaste lig in die donker kan hê wanneer daar beurtkrag is.

“In hierdie stadium werk die olielampe vir ons die beste. Dit is natuurlik ook ’n risiko, want dit kan omgestamp word en ’n brand veroorsaak,” het Spamer verduidelik.

Spamer sê hulle het besluit olielampies is hul eerste keuse aangesien herlaaibare noodgloeilampe soos soetkoek verkoop en nie altyd plaaslik beskikbaar is wanneer ’n mens dit nodig het nie.

Wanneer ’n belangrike rugbywedstryd tydens beurtkrag uitgesaai word, soos hierdie Saterdag wat verby is, maak die hotel baie seker die kragopwekker is vol petrol en gereed vir die onvoorspelbaarheid van die beurtkragrooster wat gedurig verander.

Sonkrag en noodligpartytjies

Volgens John Kilroe-Smith, bestuurder van Club Mykonos in Langebaan, een van die gebied se grootste vakansieoorde, gebruik die oord kragopwekkers vir die casino, restaurante en winkels tydens beurtkrag. Selfherlaaibare noodgloeilampe, wat ’n ingeboude battery het, is in elke kamer geïnstalleer.

“Hierdie gloeilampe werk baie goed, maar is duur,” het Smith gesê.

Aanvanklik was daar ook van hierdie gloeilampe in die oord se openbare plekke soos gange en stegies geïnstalleer, maar die gaste het die gloeilampe glo gesteel aangesien dit maklik uitgeskroef kan word.

Daar is egter ook drabare, herlaaibare ligte in elke kamer waarmee gaste snags kan loop wanneer hulle casino of restaurant toe stap.

Smith sê hul gaste raak soms baie kreatief wanneer beurtkrag toeslaan. In ’n stadium het die gaste “noodligpartytjies” gehou. Gedurende beurtkrag sou elke gas ’n noodlig neem en iewers ontmoet om saam aan aktiwiteite soos bordspeletjies deel te neem.

Die oord beplan wel in die toekoms meer en groter kragopwekkers om krag aan die oord se talle akkommodasie-eenhede te verskaf.

“Brandstof vir die kragopwekkers is egter ’n groot uitgawe en die petrolprys gaan gedurig op,” het Smith gesê.

Die oord het wel ’n sonkrag-aanleg op die perseel, maar dit kan slegs elektrisiteit tot die oord bydra as dit deur batterye of kragopwekkers, ’n opsie wat ook oorweeg word, aangedryf word.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article