Vredenburg/Saldanha se Krewe is die naasbestes in die land nadat die span se laaste wedstryd in die KSA se T20-Gemeenskapsbekerkompetisie uitgereën het.


Die SA Krieket-T20-Gemeenskapsbekertitel was so naby, maar tog so ver, vir die span van Vredenburg/Saldanha. Die Krewe is egter die tweede beste krieketklub in die land nadat reën die span uit die Weskus die titel gekos het.

Die Krewe, wat die Wes-Kaap verteenwoordig, het die toernooi in Gauteng die afgelope week op die eerste dag onoorwonne afgesluit.

Die span het sy eerste wedstryd teen Christian Brothers College Old Boys met agt lopies gewen.

Die Krewe het die loot gewen en besluit om eerste te kolf. Die span het ’n skaflike 149/5 in sy toegelate 20 boulbeurte aangeteken.

Die span se boulers het daarna hul deel gedoen en kon die span van die Titans (Pretoria) tot 142/5 beperk, wat die Weskusspan se toernooi op koers geplaas het.

Die span se tweede wedstryd teen Bobbies van die Vrystaat sal egter lank onthou word toe die Krewe die span vir die laagste telling van die toernooi uitgeknikker het.

Die Bobbies het die loot gewen en besluit om eerste te kolf en kon net 52 lopies bymekaarskraap. Die Krewe het die dag onoorwonne afgesluit toe hy die teiken blitsig in 6.1 boulbeurte met nege paaltjies in die bank bereik het.

Dag twee het egter nie baie goed vir die Krewe begin nie, toe hy sy oggendwedstryd teen die nuwe kampioen, Hollywoodbets Crusaders van KZN, met 30 lopies verloor het.

Die span van KZN het eerste gekolf nadat hy die loot gewen en 123/7 in sy toegelate 20 boulbeurte aangeteken het. Die teiken, wat binne bereik van die Krewe was, het egter te veel vir die span geword en hy is almal uit vir 93 lopies.

Die span het egter in die middag weer sy kans momentum gegee toe hy Traveling Reefs van Noordwes met 65 lopies getroef het. Vredenburg/Saldanha het op dag twee in die gesamentlike eerste plek geëindig, met die Crusaders wat danksy hul oorwinning oor die Krewe nogtans bo was.

Die laaste dag van die kompetisie is egter met onplesierige reën versuur en die reënweer het ook die Wes-Kaapse kampioen se trane geword toe sy laaste wedstryd uitgereën het en geen uitslag moontlik was teen Jendamark United van die Oostelike Provinsie nie.

Dit het die Krewe in die tweede plek as naaswenners van die kompetisie gelaat.

Met die feestyd op hande sal die Krewe sy eendagkompetisie op 13 Januarie hervat met drie tuiswedstryde kort na mekaar.

Die span, wat steeds onoorwonne in sy streek is, sal eers Wellington tuis pak, en dan, op 20 Januarie, teen Victorians te staan kom, waarna Paarl-Oos die volgende dag aan die beurt sal kom.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article