Vredenburg en Saldanha is onlangs met pragtige muurkuns opgekikker.
Die kunstenaar Elton Lesch het besluit om die kunsprojek van die grond af te begin om dié twee dorpe weer aanskoulik te maak.
Die positiewe muurkuns kan by die Weskus-kunsteater en in Diazweg in Saldanha aanskou word.
Om ander ook die geleentheid te bied om meer oor kuns te leer, het Lesch kunsleerders van die Hoërskool Louwville, Karitas- spesiale skool en die Hoërskool Diazville genader om deel van die projek te wees. Die doel was ook om hulle in dié kunsvorm te bemagtig.
“Ek sal die kuns as simbolies bestempel. Verskillende simbole word gebruik om verskillende stories te vertel,” het Lesch verduidelik.
Die muurkuns bestaan uit beelde uit die geskiedenis, erfenis en soveel meer. “Om nie te veel weg te gee nie, kan mense hul verbeelding laat gaan wanneer hulle na die kuns kyk.”
Lesch sê die projek bewys ook dit maak nie saak waar jy vandaan kom of wat jou agtergrond is nie, daar lê so baie [talent] in die kinders.
“Ons moenie ons kinders onderskat nie. Die leerders was so entoesiasties en die kunsvaardigheid wat hulle aan die dag gelê het, was ’n wonderlike ervaring. Daar is soveel kinders daar buite wat ’n geleentheid soek om hul talente te wys, en hulle het my ook geïnspireer.”





