Die hoof van die Pink Ladies se plakkate vir vermiste persone.Foto: Pink Ladies


Die grootskaalse soektog verlede week na ’n onderwyseres van Curro Langebaan en die gepaardgaande sosialemedia-“soektog” het weer die kwessie van die aanmelding van ’n vermiste geliefde onder die loep gebring.

Die Weskus-polisie het Alta van Tonder (45), ’n laerskoolse kuns-en-kultuur-onderwyseres, Donderdag 8 Junie – dieselfde dag wat haar pa, Gys Kriel – haar in Bloemfontein as ’n vermiste aangegee het, ná ’n wye polisiesoektog opgespoor.

Sy is volgens ’n kennisgewing wat die skool uitgereik en op sosiale media versprei het “Maandag 5 Junie laas gesien”. Dié kennisgewing het groot konsternasie onder Weskussers veroorsaak, met gemeenskapslede wat selfs die soort motor wat sy ry – ’n turkoois-kleurige Suzuki Ignis – op Facebook bekendgemaak het.

Van Tonder is uiteindelik in Dwarskersbos gekry en na wat verneem word, het ’n groep van haar kollegas gehelp om haar tot bedaring te bring. Sy is intussen met familie herenig.

Volgens ’n verdere kennisgewing wat die skool Vrydag 9 Junie uitgereik het, het Van Tonder dié dag met onmiddellike effek bedank en hulle het gevra dat haar en haar familie se privaatheid gerespekteer moet word.

Kapt. Tania Helfrich, ’n polisiewoordvoerder vir die Weskus-distrik, rig ’n pleidooi aan Weskussers om die regte prosedure te gebruik wanneer hulle iemand vermis en om nie net na sosiale media te gryp nie. “As jy iemand na aan jou vermis, meld dit onmiddellik by jou naaste polisiekantoor aan. Jy hoef nie 24 uur te wag nie.”

Die persoon wat die aanmelding doen, sal ’n SAPD 55 (A)-vorm moet onderteken. Volgens Helfrich beskerm dié vorm die polisie teen fopnuusverslae en vrywaar dit die polisie om die foto en inligting van die vermiste te versprei. “Die polisie werk saam met die Pink Ladies, wat op hul beurt hierdie prosedures vereis. Die polisie en die Pink Ladies versprei dan die foto met inligting en besonderhede van die ondersoekbeampte aan ander sosialemedianetwerke.”

Die persoon wat die aanmelding doen, sal ook gevra word om ’n volledige beskrywing te gee van die vermiste se laaste verblyfplek, klere wat hulle gedra het en ander bykomende inligting wat die ondersoekbeampte kan help om die persoon te identifiseer, soos ouderdom, lengte, haarkleur, oogkleur en enige identifiseringspunte soos letsels of tatoeëermerke.

Hierna word ’n ondersoekbeampte aan die saak toegewys. “Maak seker jy neem die naam en kontakbesonderhede van die speurder sodat jy met hom of haar in verbinding kan bly en hulle ingelig kan hou van enige bykomende inligting oor die vermiste,” het Helfrich gesê.

“Indien die vermiste vrywillig terugkeer, onthou om die ondersoekbeampte onmiddellik in kennis te stel, anders word waardevolle hulpbronne gemors.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article