Die gemeenskap van Velddrif het vandeesweek die amptelike opening van die nuwe private Grace- mediese sentrum gevier. Wat die nuwe ontwikkeling merkwaardig maak, is ’n plaaslike sakeman se visie vir sy gemeenskap. Russell Foster het ’n nood vir ’n mediese sentrum op die dorp geïdentifiseer en toe self skouer aan die wiel gesit om dit ’n werklikheid te laat word sodat inwoners vinniger toegang tot mediese sorg sal hê. So ook identifiseer baie ander entrepreneurs geleenthede om probleme in hul eie gemeenskap op te los. Dit is bemoedigend om te sien hoe hierdie toekomsdenkers tot aksie oorgaan en in hul gemeenskappe belê om die voortbestaan daarvan te verseker en te verbeter.
Ons, as mens, is dikwels so geneig om te kla oor alles – beurtkrag, politiek, geweld, swak dienslewering . . . eintlik oor enigiets wat nie ’n lekker smaak in die mond laat nie – maar dikwels is dit waar dit bly. Ons kla en kla en kla, maar is vinnig om by te voeg dat dit nie ons probleem is nie en terug te staan vir iemand anders om uit te sorteer. Die inisiatief van die Grace- mediese sentrum is maar net een so ’n voorbeeld van hoe ’n gemeenskap verryk word wanneer iemand die moue oprol en self tekortkomings aandurf. Dit verg ook nie noodwendig enorme beleggings om ’n verskil te maak nie. Dit is letterlik so eenvoudig soos om by groepe aan te sluit wat hulle daarop toespits om rommel op strande in jou gebied op te tel, as dit iets is wat jou grief; om in te skakel by ’n organisasie wat staan vir iets wat jou na aan die hart lê. Só kan ons saam ’n verskil maak.




