Jacques Carmichael, O’Driscoll’s-bestuurder, by die eienaars, Onja en JP Hanekom, met hul trofee.


Wie kan nou heerlike vis en tjips weerstaan? Weslander het vanjaar weer sy jaarlikse vis-en-tjips-kompetisie gehou.

Die publiek het gestem en Weslander het geluister. Stemme vir die beste restaurant en wegneemeetplek het ingestroom, waarna die beoordelaars die disse op die proef gestel het, maar net die beste van die beste kon met die titel wegstap.

Die beoordelaars glo deur die bank het al dié wat benoem is, hul plek in die kompetisie verdien.

Die restaurant O’Driscoll’s in Jacobsbaai het die heel eerste keer deelgeneem en is sommer met die intrapslag as die wenner in die restaurant-afdeling aangewys, terwyl Charlie’s Fish Shop in Saldanha die derde keer die titel as wenner in die wegneemeetplek-afdeling inkatrol het.

Ander finaliste in die restaurant-afdeling was Hoedjiesbaai Hotel in Saldanha, Deli on Main in Dwarskersbos en Marc’s Beach Bar in Langebaan. In die wegneemeetplek-afdeling was die finaliste The Fryers Delight in Paternoster en Doepies in Laaiplek.

Volgens Onja Hanekom, die eienaar van O’Driscoll’s, het hulle gemengde gevoelens van skok en genot gehad toe hulle uitvind oor hul benoeming en was hulle selfs nog meer geskok toe hulle as die wenner aangewys is. Hanekom sê die prys beteken vir hulle baie.

“Ons is ’n jong gesin en het net meer as ’n jaar gelede oopgemaak, en om dus onder die ander fantastiese benoemdes erken te word, is vir ons só ’n voorreg. Nie net dit nie, maar ons sal ook geweldige blootstelling kry deur as die wenners aangekondig te word.”

Wat is die geheim tot hul heerlike vis en tjips? “Dis eenvoudig,” sê Hanekom. “Bloot vars plaaslike produkte, insluitend ons tuisgekweekte ertjies wanneer beskikbaar, ons passie en baie liefde.”

Charlie’s Fish Shop se gedugte span – die wenners in die wegneemeetplek-afdeling.

Charlie van Blerk, die eienaar van Charlie’s Fish Shop, sê ook hy was opgewonde oor hul derde oorwinning.

“Dit is ’n familiebesigheid met ’n goeie groep werkers op wie ek baie trots is. ’n Mens wen nie ’n prys soos dié as jy nie weet wat jy doen nie.”

Wat is die geheim vir hul heerlike vis en tjips? “Ons het geen geheim nie,” vertel van Blerk. “Dit moet net reg gedoen word.”

Van Blerk verduidelik dat hulle elke dag vars vis gebruik. “Jy moet top- reeks-produkte soos speserye, visolie, meel, asyn en mayonnaise gebruik. Ons maak ons ??eie skyfies met Sandveld-aartappels.”

Justin Cupido, uitgewer van Weskus Media, sê dit was ’n groot voorreg om deel van die beoordeling te wees.

“Dit was gewis nie ’n maklike taak nie. Elkeen van die finaliste was waardig en so ook die ervaring van elke bord wat vir ons voorgesit is. Dit was goed om te sien dat die standaard van voormalige deelnemers steeds van hoë gehalte is (indien nie beter nie) en dat die nuwe inskrywings se standaard gewis voldoen aan dít wat die Weskus- area se vis en tjips laat koning kraai. Baie geluk aan die wenners; dit is welverdiend.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article