Die Weskus het gestem en Weslander het geluister!
Vanjaar se vis-en-tjips-kompetisie het begin met ’n groot aantal stemme deur die publiek vir die beste restaurant en wegneem-eetplek waarna Weslander se beoordelaars die disse op die proef gestel het.
Volgens die beoordelaars was vanjaar se kompetisie strawwer as die vorige jaar.
“Vanjaar se finaliste het behoorlik beïndruk en daar is mildelik gedebatteer oor wie as vanjaar se Koning van Vis gekroon gaan word,” sê Maryke Swart, redakteur van Weskus Media.
Deli on Main in Dwarskersbos is as die wenner in die restaurant-kategorie aangewys en Westland Fisheries in Velddrif in die wegneemete-kategorie. Dit is ook albei eetplekke se eerste inskrywings en ’n wen wat hulle glad nie verwag het nie.
Ander finaliste in die restaurant-afdeling was Soverby Lapa, Isabella’s, Roestyd en See Kaia. In die wegneem-afdeling was Doepies, Charlie’s Fish Shop, Ajays Fisheries en Oppihoek Café ook onder die top-5.
Volgens Stefan Grobler, eienaar van Deli on Main, beteken hierdie wen ongelooflik baie vir hulle. Die restaurant bestaan al vir meer as twee jaar sedert sy deure tydens die Covid-19-inperking oopgemaak is. Alhoewel dit ’n uitdaging was, het hulle sterk deurgekom en ’n sukses gemaak van die besigheid.
“Deli on Main was ook deel van die Kfm Best of the Cape-toekennings as ’n finalis, maar omdat hierdie toekenning so plaaslik is, is dit baie spesiaal vir ons,” sê Grobler.
Grobler verduidelik dat die restaurant ’n rustige atmosfeer bied en dat hy gebruik maak van plaaslike produkte soveel as wat hy kan. “Ek kan met trots sê ek weet waar die produkte vandaan kom.”
Met vars en uitstekende gehalte glo Deli on Main daaraan om net die beste aan sy klante te bied. Grobler glo nog aan die ou manier van vis-en-tjips maak, wat ’n fondasie lê vir wat hy daagliks aanbied. Hy haal die gesegde “If it’s not broken, don’t fix it” aan.
Deli on Main wil graag elkeen bedank wat hulle ondersteun en vir hulle gestem het. Grobler wil persoonlik ook graag dankie sê aan sy ma, Theonetta, sy vrou, Loïs, en die fantastiese personeel se harde werk wat deel van hul sukses uitmaak.
Justin van Willingh van Westland Fisheries deel dieselfde sentiment en is vreeslik bly oor die wen, gegewe dat hulle nou eers in hul eerste bestaansjaar is. Hy bedank ook al hul klante en elke liewe persoon vir hul ondersteuning, asook sy personeel. “Ons poog altyd om ons klante tevrede te stel met gehaltekos en vriendelike diens. Van Willingh glo daaraan om van vars produkte gebruik te maak. Wanneer dit kom by die beslag wat gebruik word, vertel van Willingh dat dit ’n Westland Fisheries geheim is.
“I could tell you, but then I would have to kill you,” sê hy en lag.
Van Willingh voeg ook by dat hulle altyd oop is vir voorstelle en is trots op die kos wat hulle voorsit.
Albei eetplekke is opgewonde oor wat die toekoms inhou.
Swart sê: “Hoewel die idee met die jaarlikse kompetisie nie is om onderskeid tussen die restaurante en wegneem-eetplekke te tref nie, maar eerder ’n platvorm te bied vir die finaliste om blootstelling te geniet in die aanloop tot die opkomende feestyd wanneer besoekers op die Weskus toesak, het ’n tikkie gesonde kompetisie nog niemand skade berokken nie. Een ding is vir seker, die Weskus doen sy naam gestand as voorloper met die lekkerste vis-en-tjips.”
Swart meen die passie en entoesiasme waarmee die beoordelaars by die restaurante verwelkom is en die moeite wat elke finalis gedoen het om sy unieke smaak in sy produk na vore te laat kom, tesame met die algemene ervaring wat tot ’n besonderse Weskus-atmosfeer bygedra het, het soos ’n paal bo water uitgestaan.
“Hartlik geluk aan albei wenners asook aan elkeen van die finaliste wat ’n stukkie van hul hart en siel met ons gedeel het. En aan ons besoekers dié feestyd, ’n besoek aan die Weskus is nie afgerond voordat jy nie aan ’n porsie Weskus vis-en-tjips gesmul het nie.”





