Die Weskus se blitspatrollie het kreefsterte ter waarde van R1,1 miljoen agter op ’n Ford Ranger-bakkie ontdek nadat twee vermeende smokkelaars dit na bewering van Paternoster na Paarl probeer smokkel het.
Volgens kapt. Tania Helfrich, woordvoerder van Vredenburg-polisie, het die blitspatrollie Vrydag 11 Maart inligting ontvang van ’n voertuig wat moontlik onwettige kreef van Paternoster af vervoer.
’n Ford Ranger-bakkie is omstreeks 12:00 op die Paternosterpad gesien en onderweg na Vredenburg deur die polisie voorgekeer. Die vrag in die Ford Ranger se laaibak was vol gevulde plastieksakke. Die polisie het by nadere ondersoek gesien elk van die sakke is vol kreefsterte.
Helfrich sê die twee verdagtes, wat onderskeidelik 36 en 19 jaar oud is, is met die hulp van ’n lid van die departement van seevisserye in hegtenis geneem.
Die twee verdagtes het Maandag 14 Maart in die Vredenburg-landdroshof verskyn.




