’n Oudpolisieman van Piketberg, Richard Smit, wat daarvan aangekla word dat hy sy vriendin op 2 Januarie met sy dienspistool doodgeskiet het, sal ’n pleitooreenkoms met die staat aangaan.
Smit se regsverteenwoordiger, Bruce Hendricks, het hierdie nuus op 25 November in die Kaapse hooggeregshof bekendgemaak.
Smit self was nie in die hof nie, aangesien hy na Goodwood se gevangenis geskuif is en die papierwerk verkeerdelik na Pollsmoor gestuur is.
Volgens die Facebookblad Justice for Natasha Booise from Piketberg was Booise se familie duidelik teleurgesteld dat Smit nie self ook by die hof was nie.
Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, het bevestig die klagtes teen Smit behels moord, poging tot moord, die afvuur van ’n vuurwapen in die openbaar, die hantering van ’n vuurwapen onder die invloed van ’n verbode middel en twee klagtes van aanranding.





