Die beoogde ontwikkeling van die sogenaamde “Vingerhoedhuisie” is vir eers gestaak ná vele vertoë teen die afbreek van die bekende baken.
Dié rietdakgebou op die hoek van Kamp- en Manitokastraat in Saldanha kan moontlik vir ’n woonstelblok plek maak, maar die eienaar, Louis de Wet, sê planne sloer reeds ses maande weens inwoners wat nie die gebou gesloop wil hê nie.
Intussen word die gebou stuk vir stuk weggedra.
“Ek kon die afgelope maande niks doen nie nadat ek byna twee jaar gelede al met die proses begin het om die eiendom te ontwikkel,” sê De Wet.
Sommige Saldanhabaaiers meen historiese geboue moet behou word en die Vingerhoedhuisie moet in ’n inligtingsentrum of toerismekantoor omgeskep word.
Volgens De Wet is hy oop vir die idee, maar geeneen wat die ontwikkeling teenstaan, het met hom kontak gemaak nie. Wat die ongelukkiges wel gedoen het, was om hul teenkanting teen die sloping en die ontwikkeling van die perseel aan die Nasionale Erfenisraad te rig. AfriForum het toe ingespring om te help, maar Alana Bailey het aan Weslander gesê hoewel vertoë teen die sloping gerig is, was dit onsuksesvol.
Sommige Weskussers onthou die melkery met sy twee koeie wat eens by die Vingerhoedhuisie was, of hoe seuns hul hare daar laat sny het.
Die gebou is dekades oud en Lize Malan, ’n stadsbeplanner en erfeniskonsultant, wat ’n dokument vir openbare kommentaar saamgestel het, het gevind die rondawel kan reeds op ’n lugfoto van 1937 gesien word.
Die gebou is egter oor die jare vele keer verander, met verskeie boustyle wat saamgeflans is. De Wet sê hy het van die begin af by die Saldanhabaai-munisipaliteit seker gemaak die gebou is nie van geskiedkundige waarde nie. Hy sê ook hy het die beswaarmakers genooi om hom te ontmoet, maar sy uitnodiging is van die hand gewys.
Bailey glo ’n middelweg is moontlik.
“Ons standpunt is dat ’n oplossing tussen die twee partye gevind moet word. Die huisie is gewis meer as ’n eeu oud, en al verteenwoordig dit nie noodwendig ’n spesifieke styl nie, en al het dit nooit wêreldberoemde inwoners gehad nie, is dit deel van die unieke kultuurhistoriese straatbeeld en verhaal van Saldanha.”
Intussen staan die gebou leeg.
Deure is reeds weggedra en De Wet sê byna elke keer wanneer hy by die gebou opdaag, is nog iets weg. Hy meen dit is goed en wel om die gebou in ’n sentrum om te skep en die gebou te herstel en op te knap, maar hy wil weet wie die onkostes daarvan sal dra.
“Oor die jare het niemand na my gekom om te gesels oor die bewaring van die gebou nie. Ek was sensitief oor die geskiedenis, maar die Erfenisraad het bevind die gebou het nie historiese waarde nie,” sê De Wet.
’n Kans word nou gegee vir enige appèlle teen die Erfenisraad se besluit.
Indien nodig, sal De Wet dan sy vertoë moet indien, waarna die tribunaal ’n besoek aan die gebou sal moet doen. Eers wanneer die finale besluit deur die Erfenisraad gemaak is, sal De Wet weet of hy die perseel kan ontwikkel.
“Indien dit in my guns besluit word, sal ek die eenhede kan begin bemark en die ontwikkeling aan die gang kry. Indien nie, sal diegene wat teen ontwikkeling gekant is, vir my moet sê hoe die gebou behou sal word en wie daarvoor gaan opdok,” sê hy.





