Weskussers het die afgelope paar maande by talle geleenthede slange in die omgewing – selfs in woongebiede – gewaar. Tog het baie nie die nodige kennis om so ’n situasie te hanteer nie en is die eerste instink om slang se kind van kant te maak of te vlug.
Die ervare Weskus-slangvanger Etienne Swanepoel het sedert die begin van die slangseisoen al 96 slange gevang.
Weslander het Swanepoel genader om sy kundigheid met lesers te deel oor wat om te doen wanneer jy van aangesig tot aangesig met ’n slang gekonfronteer word.
Die slangseisoen begin gewoonlik in September.
Swanepoel sê slange word gewoonlik van vroeg lente tot laat winter, wanneer die weer nog matig is, gewaar. Dit beteken wanneer dit begin koud word, is hulle nie veel te siene nie. “Ons slange hiberneer nie en slaap nie die hele winter deur nie, omdat dit nie koud genoeg is nie. Hul metabolisme is wel stadiger, en hulle jag nie so aktief nie,” sê hy.
Hoewel slange hitte kan hanteer, sal jy sien hulle soek bedags ’n koel plekkie, verduidelik Swanepoel.
Hy sê hy het sedert die begin van die seisoen al talle paniekerige oproepe van inwoners ontvang, wat slange in die gebied of in hul eiendomme gesien het. Dus raai Swanepoel inwoners aan om deure en vensters toe te hou.
Swanepoel deel ook die volgende raad:
Wat lok slange en wat kan mense doen?
Soos mense het slange ’n habitat, water en kos nodig om aan die lewe te bly. Wanneer dit gehandhaaf word, word ’n ideale habitat vir die slang geskep. Swanepoel sê mense moet hul tuine skoon hou en ontslae raak van enige rommel wat as wegkruipplek kan dien. “Dit skep ook ’n habitat vir ander diertjies wat prooi is vir slange. Mense moet probeer om nie hierdie habitat doelbewus te skep nie. Dit klink baie moeilik en dit is nie altyd maklik nie. Ongelukkig bestaan geen chemiese gif wat mense kan spuit om die slange weg te hou nie.”
Swanepoel sê sogenaamde “slangafweermiddels” word verkoop en mense glo in mites soos om plante te plant wat van slange ontslae sal raak. Hy lê klem daarop dat dit glad nie werk nie.
Watter slange in die Weskus is dodelik gevaarlik?
Suid-Afrika het 176 verskillende slangspesies.
Swanepoel verduidelik uit dié 176 spesies is slegs 20 spesies dodelik gevaarlik sonder enige professionele mediese behandeling.
“Van dié 20 kom slegs drie slange, wat as lewensbedreigend beskou word, in die Weskus voor – die boomslang, Kaapse kobra en die pofadder.”
Wat moet mense doen wanneer hulle slange teëkom?
Swanepoel sê mense moet vir veiligheid ver van die slang af bly. Hoe verder, hoe veiliger.
“Hoewel mense aangemoedig word om ver van die slang af te bly, is dit ook belangrik om die slang nooit uit sig te verloor nie. Bel dadelik ’n geregistreerde slanghanteerder. As dit moontlik is en jy dit van ’n veilige afstand af kan doen, neem ’n foto en stuur dit aan die slanghanteerder sodat hy weet met watter slang hy werk.”
Swanepoel lê weer klem daarop dat mense dit nie moet waag om die slang self te vang of dood te maak nie.
“Dis wanneer mense as gevolg van ’n slangbyt in die hospitaal beland. Dit is nie die risiko werd nie – die Weskus het genoeg opgeleide professionele mense wat weet wat om te doen.”
Wat om te doen wanneer ’n slang jou pik?
“Moet geen, maar geen, selfmedikasie gebruik nie. ’n Mens kan ’n slangbyt oorleef as jy dadelik professionele mediese hulp ondergaan. Jy het niks by die huis wat jy kan gebruik om slanggif te neutraliseer nie.”
Selfmedikasie kan dit vir die mediese span bemoeilik om die regte behandeling doeltreffend toe te pas. Swanepoel sê ook gif kan nie “uitgesuig” word nie.
Is genoegsame voorraad teengif beskikbaar?
Volgens Swanepoel heers ’n ernstige tekort aan teengif wêreldwyd.
Dit gee meer rede dat mense nie self die risiko moet neem nie en dit aan professionele mense oor te laat. Hospitale soos dié in Vredenburg en Piketberg behoort teengif te hê.
Wat word van slange wat gevang word?
Swanepoel sê slange wat gevang word, word gewoonlik in die natuur vrygelaat, maar bevestig slange mag glad nie naby ’n woongebied vrygelaat word nie.
“Cape Nature het verskeie gebiede goedgekeur waar slange veilig vrygelaat kan word.”
Swanepoel moedig mense aan om die gerieflike skakel https://www.africansnakebiteinstitute .com/app/ te besoek, wat meer inligting deel oor slange en die naaste slangvangers in jou gebied.





