“Genadelose parasiet. Ontsettend oneerlik. Hy’s ’n verskriklike skelm.”

Dít is van die menings van die slagoffers van ’n beweerde ou Wes-Kaapse swendelaar wat hom sedert 2020 in die Weskus bevind en wie se dade nou op die lappe kom.

Neil Schnetler (66) bevind hom deesdae op die Nieuwe Rust-kleinhoewes tussen Vredenburg en Paternoster waar hy na bewering reeds ’n streep inwoners ingedoen en die oorgrote meerderheid steeds geld skuld.

Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder vir die Weskus-polisie, het Schnetler in 1993 die eerste keer weens bedrog en die diefstal van ’n video-opnemer tronkstraf uitgedien.

Schnetler se modus operandi blyk te wees om goedere te “koop” en dit met geloofwaardige stories of vals betalingsbewyse by die eienaars te vat. Die eienaars kry na bewering dan agterna nie ’n sent uit hom nie.

So het Duncan Barnard ’n vierwielmotorfiets sowat twee weke gelede op Facebook Marketplace geadverteer en Schnetler het dit by hom kom haal, met stories dat hy vir ’n “uitbetaling” wag en die geld sou oorbetaal. Toe Barnard besef dat hy nie die geld by Schnetler gaan kry nie, het hy die vierwielmotorfiets weer op Facebook geadverteer en dit by Schnetler gaan haal. Schnetler beweer dat hy Barnard aangesê het om dit te kom haal toe hy die advertensie op Facebook sien.

Schnetler “verkoop” ook gekapte hout of maak asof hy houtmeubels maak of herstel, vra dan ’n deposito of die volle bedrag vooruit, en daarna kry die kliënte blykbaar nooit die produk nie – soos in Neville Gray van Vredenburg se geval.

Schnetler het twee keer gekapte hout afgelaai soos belowe, maar die derde keer het Gray R800 oorbetaal – die helfte van ’n vrag hout – en tot vandag geen hout gekry nie. Schnetler het dit nie ontken nie en net gesê hy het ’n hele paar keer by Gray gaan hout aflewer. Die Hacienda Group waaronder hy gekapte hout verkoop, se ligging word as Elandsbaai aangedui.

Die oor-en-weer-WhatsApp-boodskappe van verskeie Vredenburgse slagoffers wys duidelik ’n prentjie van ’n vermeende swendelaar wat flink op sy voete dink.

Só is adv. Hanli Linde, die munisipale bestuurder van die Bergrivier-munisipaliteit, ook in 2009 in Stellenbosch deur Schnetler ingeloop met houtmeubels wat hy onder die naam van die onderneming Shamrock Wood sou maak.

Linde het later ’n saak by die hof vir klein eise in Bellville aanhangig gemaak en teen die tyd wat die saak in 2014 voorgekom het, was sy verstom toe sy vir die hofsitting opdaag om sowat veertig ander slagoffers van Schnetler in die ry te sien staan.

Al het die hof gelas dat Schnetler die geld aan ’n ieder en ’n elk moet terugbetaal, het hy volgens Linde bankrotskap geveins en niemand het ooit ’n sent gesien nie.

Schnetler het gesê hy dra nie kennis van die gebeurtenis nie.

“Ek is so jammer om te hoor hy loop steeds rond en doen mense in. Hy gaan nooit verander nie. Ek weet nie hoekom hy nog nie in die tronk is nie,” sê Linde.

Die eerste Vredenburger wat in Julie inwoners van Vredenburg wou bewus maak dat ’n “swendelaar” in hul midde is, is Francis Holloway van Nieuwe Rust. Schnetler het hom met ’n skaap se geld ingeloop met stories oor ’n “groot uitbetaling” wat wag. Hy wag steeds vir betaling. Schnetler het nie op dié aantyging gereageer nie.

’n Weduwee van Nieuwe Rust vertel Schnetler het elf opvoustoele by haar vir R50 elk geneem. Hy het vier daarvan teen ’n stewige wins verkoop en die res weer by haar kom “stoor”. Hy is daar weg met vier splinternuwe kakiebroeke en hemde van haar oorlede man en sy sien hom dit gereeld dra. Hy skuld haar nog altesaam R1 060.

Schnetler ontken dat hy die weduwee geld skuld en dat hy al van die stoele verkoop het. “Ek het orals geadverteer maar niemand het belanggestel nie,” sê hy, waarop hy glo uiteindelik die stoele teruggegee het.

André van Schalkwyk van Nieuwe Rust is in ’n siviele hofgeding met Schnetler betrokke. Schnetler het glo vir maande op sy eiendom gebly, sonder om huurgeld te betaal. Hy moes ook ’n interdik teen Schnetler verkry. Schnetler beweer hy is inteendeel besig met ’n eis en ’n siviele geding teen Van Schalkwyk. Volgens Van Schalkwyk is dit wat Schnetler sê bloot net nie waar nie en hy dra geen kennis van so ’n saak teen hom nie.

Benewens Shamrock Wood is daar ander name van ondernemings waaronder Schnetler “handel dryf”. Dit sluit in Nead Tree Fellers, Nead Fellers Saligna, Schnets Photography, Camel Rock Trading 298, The Rusty Door Knob, Hacienda Group (Fisheries), Schnetberg Technologies en Neil Power Tools.

Son en Die Burger het in 2014 berig oor verskeie mense wat Schnetler na bewering in die naam van Shamrock Wood in Goodwood met derduisende rande ingeloop het. Hy het glo voorgegee om houtmeubels te maak of te herstel waarvoor hy dan ’n deposito of die hele bedrag vra, maar dit is nooit vervaardig of herstel het nie.

Schnetler maak dié destydse mediaberigte af as lasterlik en beweer dat hy onskuldig in die saak is.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article