’n Eenjarige peuter en sy driejarige sussie van Vredenburg, wat albei nog bottel gedrink het, is in 2019 onderskeidelik 19 en 14 keer met ’n mes gesteek. Die jongste is met ’n bierbottel oor die kop geslaan en later deur ’n venster gegooi.
Die moordenaar, Derick Kalmeyer (54), is verlede Woensdag aan hierdie grusame dade skuldig bevind.
Waarnemende regter Pam Andrews het Kalmeyer verlede week in die hooggeregshof in Kaapstad skuldig bevind aan die moord op Faith (3) en Conray (1) Adams van Louwville.
“Watter soort pa doen dit nadat hy sê hoe lief hy vir hulle is?” wou Denise Adams, ouma van die kinders, ná die uitspraak weet.
Kalmeyer en die kinders se ma, Frizaan Adams, was in ’n verhouding, maar hy was nie die kinders se biologiese pa nie. Hulle het saam in Kalmeyer se wendyhuis gewoon.
Kalmeyer het tereggestaan op twee aanklagte van moord, twee van poging tot moord en een van regsverydeling deurdat hy probeer verhoed het dat die polisie hom in hegtenis neem.
Andrews het bevind Kalmeyer het die kinders vroegoggend op 1 Mei 2019 in sy wendyhuis vermoor.
Die feite van die saak is baie grusaam en die gebeure is vir die familie nog baie traumaties, het Adams buite die hof gesê.
Kalmeyer het Faith 19 keer met ’n mes gesteek. Hy het Conray met ’n bierbottel oor die kop geslaan, 14 keer met ’n mes gesteek en daarna deur ’n venster gegooi. Hy is later in die hospitaal oorlede.
Faith is op die toneel dood.
“Hy is ’n leuenaar en lieg vir die hof. Hy sê in die hof hoe lief hy die kinders gehad het, asof hulle sy eie kinders was, maar hoe kan ’n mens dan jou kinders so wreed behandel?” het Adams gevra.
Kalmeyer het uit die staanspoor ontken hy het die kinders vermoor en aangevoer iemand anders het dit gedoen. Iemand van buite kon toegang tot die wendyhuis verkry het, het hy beweer.
Andrews het egter bevind dat sy weergawe nie redelik moontlik waar kan wees nie, gegrond op al die getuienis – veral die mediese bewyse – wat saam geëvalueer is.
Die kinders se ma en Kalmeyer was die betrokke aand in ’n bakleiery betrokke oor ’n vriendin van Frizaan wat nie by een van Kalmeyer se kollegas wou slaap nie.
Kalmeyer het gesê dit het hom in die verleentheid gestel, en volgens Frizaan en haar vriendin, Christolene Orion, wat saam by die wendyhuis was, het Kalmeyer die wendyhuis met ’n staalvoorwerp, iets soos ’n koevoet, ingekom en hulle probeer aanrand.
Frizaan het na die “hoofhuis” gevlug, waar Kalmeyer se suster gewoon het. Sy het vir Kalmeyer weggekruip, omdat hy gesê het “ek slaan jul koppe pap”.
Orion het gevlug en Kalmeyer het toe die kinders vermoor.
Gegrond op die mediese en ander onafhanklike getuienis het Andrews bevind dit is Kalmeyer wat die kinders doodgesteek het.
Hy is egter vrygespreek op ’n klag van poging tot moord op Orion, omdat die staat nie kon bewys hy het haar aangeval nie.
Andrews het hom op die aanklag van poging tot moord op Frizaan eerder op aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer skuldig bevind.
Adams het ná die uitspraak gesê die familie is tevrede met die beslissing en dat die hof ’n voorbeeld van Kalmeyer moet maak.
Vonnisverrigtinge vind Dinsdag 19 April plaas omdat die verdediging voorvonnisverslae aangevra het van die departemente van maatskaplike ontwikkeling en korrektiewe dienste.




