Voor sit Marius Coetzee (skuldberader). Agter is Marlene du Preez (ontvangs en admin), Nisa Kuün (hof-administrasie) en Lea Steenkamp (kliënte-adviseur).Foto:


DRS Debt Help vier 15 jaar aan die Weskus onder die bestuur van Marius Coetzee.

DRS Debt Help is geregistreer ingevolge die Nasionale Kredietwet en spog met takke in Vredenburg, Secunda, Vredendal en Middelburg.

Met Suid-Afrika wat aanhou om ’n samelewing met oormatige skuld te word, word hoe ’n mens jouself uit die gat van skuld grawe nie net ’n finansieel belangrike besluit nie, maar ook een van wetlike imperatief. DRS Debt Help het al meer as 4 000 mense in hul 15 jaar- tydperk gehelp om hul skuld te herstruktureer en finansiële stres te verlig. “Dit is geweldig bevredigend wanneer ’n kliënt wat mismoedig by ons aangekom het, weer kan begin asemhaal tydens die skuldberadingsproses en uiteindelik skuldvry by ons deur uitstap,” sê Coetzee.

Die onderneming is in 2019 en 2022 onder die top-10 aangewys in die medium-skuldberadingsonderneming-kategorie in Suid-Afrika.

Coetzee glo dis persoonlike aandag tussen kliënte en personeel wat bydra tot hul sukses.

Coetzee deel graag hoe DRS Debt Help jou kan help om jou lewe finansieel weer op koers te kry.

Wat is skuldberading?

Skuldberading is ’n proses wat deur die kredietwet geskep is om kliënte te help wat sukkel om al hul skuldpaaiemente ten volle en op tyd te betaal en genoeg geld oor te hê om hul basiese lewenskoste te dek. ’n Geregistreerde skuldberader sal namens jou onderhandel om jou maandelikse skuldpaaiemente te verminder sowel as om die rentekoers te verlaag.

Wie kwalifiseer vir skuldberading?

Enige persoon wat sukkel om sy maandelikse uitgawes en sy skuldpaaiemente op tyd te betaal kan ’n geregistreerde skuldberader nader om uit te vind hoe hy gehelp kan word.

Is skuldberading vir arm mense?

Skuldberading is nie vir arm mense nie, maar vir enige persoon, ryk of arm, wat sukkel om sy maandelikse verpligtinge na te kom. Daar is geen minimum of maksimum limiete vir skuldberading nie.

Is dit ’n veilige proses?

Die skuldberadingsproses word deur die Nasionale Kredietreguleerder gereël en is volkome veilig vir gebruikers. Kliënte en hul bates word deur die kredietwet beskerm.

Hoe weet ek die geld wat ek betaal kom by die regte mense uit?

’n Geregistreerde skuldberader mag nie enige geld self ontvang nie. Die kliënte se geld word in ’n trustrekening inbetaal en word versprei deur ’n betaalverspreidings­agentskap wat by die NCR geregistreer is en streng deur hulle gemonitor word. Maak seker jy maak gebruik van ’n gerespekteerde en geregistreerde skuldberader en nie sommer enige persoon wat jou bloot telefonies kontak nie.

Is dit nie beter as ek self met my krediteure onderhandel om minder te betaal nie?

Krediteure is soms bereid om die paaiemente vir kort periodes te verminder, maar rente bly oploop en die skuld word meer. Skuldberading is die enigste wetlike proses waar daar oor verlaging van rentekoerse onderhandel kan word en waar dit ’n bevel van ’n hof gemaak kan word.

Wanneer is die regte tyd om met ’n skuldberader te gesels?

Die beste tyd om ’n geregistreerde skuldberader te nader is wanneer jy besef dat jy nie al jou maandelikse uitgawes en skuldpaaiemente betyds en ten volle sal kan betaal nie. Moenie eers wag dat al jou rekeninge agter raak of krediteure jou rekeninge oorhandig vir invordering nie.

Daar is gereeld advertensies op die internet en sosiale media vir skuldberadingsdienste. Hoe verskil dit van die dienste wat julle bied?

Die proses is veronderstel om dieselfde te wees. Die verskil lê egter daarin dat ons ’n persoonlike diens lewer en u enige tyd die skuldberader of ondersteunings­personeel kan kontak of kan kom sien om enige navrae te hanteer. Die nadeel daarvan om met anonieme skuldberaders besigheid te doen is dat jy met ’n kontaksentrum te doen sal kry wat geweldige probleme vir kliënte veroorsaak en waar jy elke keer met ander mense moet werk.

Kan ek nuwe skuld aangaan as ek onder skuldberading is?

Nee. Wanneer jou skuld wel klaar betaal is, kry jy ’n klaringsertifikaat en jou naam word “skoongemaak” by alle kredietburo’s en by die NCR en jy kan weer aansoek doen om nuwe krediet.

Hoe lank gaan ek onder skuldberading bly?

Die termyn verskil vir alle aansoekers. Dit hang af van die hoeveelheid skuld wat ’n kliënt het, hoeveel die kliënt kan bekostig om per maand terug te betaal en wat die rentekoerse is waarop geskik word.

Wanneer kan ek uitkom onder skuldberading en hoe lank vat dit?

’n Kliënt kry ’n klaringsertifikaat sodra sy korttermynskuld klaar betaal is. Indien ’n persoon ’n verband het hoef die verband nie klaar betaal te wees om onder skuldberading uit te kom nie. Dit neem 21 werksdae nadat ’n kliënt se skuld vereffen is vir die kredietburo’s om die inligting by te werk.

Hoe kan ek seker maak ek behou my bates en verloor nie my eiendom nie?

Betaal maandeliks jou nuwe verlaagde paaiement op tyd en moenie betalings oorslaan nie.

Indien ek ’n probleem ondervind en ’n maand nie ’n betaling kan maak nie, beteken dit dat ek outomaties my eiendom gaan verloor?

Nee, kontak jou skuldberader onmiddellik indien jy bewus word daarvan dat jy nie jou paaiement ten volle sal kan betaal nie. Voorsien die skuldberader van die nodige dokumentasie ter ondersteuning van wat daartoe gelei het dat die betaling nie ten volle gemaak kan word nie.

Watter raad het jy vir mense wat swaar trek in hierdie moeilike tye?

Daar is hulp! Kontak DRS Debt Help en praat met ’n geregistreerde skuldberader sodra jy begin swaar trek. Moenie wag dat jou rekeninge eers oorhandig word nie – dit lei tot meer kostes en rente. Mense is welkom om ons te kontak vir ’n gratis konsultasie sonder verpligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article