Daar word baie gepraat oor die morele stryd in die Saldanha-gemeenskap, met skietvoorvalle onder tieners wat deel is van die bendes wat Saldanha ruk.

Baie praat oor hierdie morele stryd in ons gemeenskap, maar min doen iets.

Wanneer hou dit op en wanneer is genoeg dan genoeg? Hoeveel jong seuns moet ons nog aan die dood afstaan? Hierdie skietvoorvalle raak nie net die volwassenes nie, maar ook die tieners. Dit maak hulle angstig.

“Ek kan nie eens meer alleen winkel toe gaan nie,” sê ’n jong inwoner van Saldanha.

Die jeug van vandag is môre se grootmense – maar hoe gaan hulle leiers kan wees as hierdie jongmense mekaar uitwis?

Dan is daar die eksistensiële krisis onder jongmense, waar hulle hul eie lewe neem as gevolg van huishoudelike probleme of selfs die druk op akademiese gebied.

Volgens statistieke ly talle tieners aan depressie. Dis soos ’n onvoorsiene gebeurtenis, want niemand sien dit kom nie. ’n Jong slagoffer van depressie het aan my gesê: “God het toegelaat dat ek deur daardie battle moes gaan om aan my te wys dat net Hy alleen die mag het om my daar uit te kry.”

Sy het ook bygevoeg dat baie tieners nie eens bewus is van die woord “depressie” nie. Ons jongelinge gaan deur soveel druk in die lewe.

As hoërskoolleerling was dit altyd hartroerend om te sien hoe ’n mamma, met trane wat oor haar oë rol en verneder deur haar eie vlees en bloed wat nie wil regkom nie, nog steeds en ten spyte van al die uitdagings hoop vir ’n oplossing.

My gunsteling-aanhaling is: “Moenie iemand op sy baadjie takseer nie’’ – want almal het ’n storie. ’n Storie is soos ’n homoniem, want dit klink dieselfde maar die betekenis verander. Een van my drome vir die pad vorentoe sal wees om my eie televisieprogram te hê, genaamd Vertel jou storie met Mi-kayline.

Ek glo met God aan my kant is alles moontlik. Wel, ek het so baie drome, dis ontelbaar. Ek dink dis dalk omdat ek nog op die ouderdom van agtien saam met my jonger susters animasieflieks kyk.

Ek glo aan dream big en sê altyd die dag toe ek my oë oopgemaak het, kon ek al koortjies sing. Ek is dankbaar vir my ouers se liefde en goeie opvoeding.

Ons as jongelinge moet leer om nooit te huiwer om nuwe dinge met albei hande aan te gryp nie. So, terwyl die feestyd op die horison lê en loer, kom ons probeer dinge anders doen. Dinge wat jou sal help in die toekoms. In plaas van slaap en die heeltyd TikTok kyk, doen dinge wat geestelik en emosioneel vir jou goed is.

Jy kan begin deur as ’n vrywilliger in jou gemeenskap aan te sluit.

Onthou, almal het hulp nodig. So help dit jou om angs en bendegeweld te oorkom.

Vanjaar het ek besluit dis tyd om aan my toekoms te werk, want iewers sal jy moet begin, so ek begin nou.

As jy vir jouself sê “ek wil”, dan kan geen klip of rots jou keer nie. Maak nie saak hoe jonk of grys jy is nie, daar is altyd tyd vir transformasie.

Ja, dis soms makliker gesê as gedaan, maar onthou, dis jou lewe, jou toekoms en natuurlik jou keuse.

Kom ons droom groot en help om die gemeenskap trots te maak, want ons is môre se grootmense.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article