Jongmense wat hul toneelspelvernuf wil slyp en heerlike pryse van meer as R50 000 wil wen, kan hulle steeds vir die derde aanlyn KKNK- dramaweb SA kompetisie inskryf.
Ira Blanckenberg, inisieerder en organiseerder van die inisiatief, sê hul hoofdoel is om alle aspekte van toneelspel uit te bou, te ontwikkel en ’n koesterende omgewing van groei te skep waar al die deelnemers die wonder van die verhoog, mekaar, en hul eie talente voor ’n [aanlyn] gehoor kan slyp.
Lizané Basson, KKNK se algemene bestuurder, voeg by dat die KKNK deel is van dié projek omdat dit ’n liefde vir die kunste en literatuur onder kinders en die jeug kweek. “Dit bied ’n platform aan waar vaardighede soos selfvertroue ontwikkel en waardes versterk, onder meer dissipline, empatie en vele ander,” sê Basson.
Een van verlede jaar se wenners, Anje Moolman van die Laerskool De Krans, sê Dramaweb SA was ’n lekker ervaring vir haar, nie net omdat sy gewen het nie, maar omdat die beoordelaars baie oulik was.
Die wenner, Mia-Cecilia Kriel van Curro Durbanville, sê dis aanlyn, so meer leerders in Suid-Afrika kry geleentheid om deel te neem. “Die terugvoer is baie goed en deeglik en wys jou waar daar plek is vir verbetering. Ek het die hele ondervinding baie geniet,” voeg sy by.
Die pryse ter waarde van meer as R50 000 sluit in:. Die gewilde oudio-leesplatform BiB is een van vanjaar se borge en twee gelukkige wenners (een in Afrikaans en een in Engels) kan elk ’n betaalde stemkontrak wen om ’n oudio-boekvoorlesing vir hulle te doen, wat dan op hul platform gepubliseer sal word.. 30 geskenkbewyse (R300 elk), 30 geskenksakkies gevul met hul PNA-handelsmerkprodukte.. Twee i-Glide “hoverboards” van Exclusive Brands Online.. Vyf geskenkpakke (R500 elk) en drie “unboxing” YouTube-geleenthede van Yokico en nog meer.
Aansoeke vir KKNK-dramaweb SA sluit Saterdag 30 April en die inskrywingsfooi beloop R170 per item. Video-opnames van deelnemers kan egter tot Dinsdag 10 Mei by www.dramawebsa.co.za opgelaai word.
Vir meer inligting, besoek Dramaweb SA op die KKNK-webblad by www.kknk.co.za/dramaweb-sa/ of kontak 044 203 8600.



