Dié man, wat nie sy naam wou gee nie, is in die afgebrande huis betrap nadat duidelike kapgeluide vanuit die gebou gehoor is.Foto’s: Alida Buckle


Die afgebrande huis in Saturnusstraat 1, Vredenburg, het die afgelope drie en ’n halwe weke ’n groot steurnis en bekommernis in die buurt opgelewer, met plunderaars en rondlopers wat deur die dag en nag met panga’s en ander instrumente kom skrootmetaal afkap het.

Dit het ook nie gemoedere gehelp dat los dakplate deur die nag gekap-kap het as die wind gewaai het nie.

Weslander het self Vrydag (15 Maart) ’n man in die huis betrap wat besig was om skrootmetaal uit te kap. Hy het beweer dat hy “toestemming” het om dit te doen, maar die omliggende bure sê dit is nie die geval nie. “Almal kom maak nou nes hulle lekkerkry by die huis.”

Kyle Venter (23), aan wie se familie die huis behoort, het aan Weslander gesê die versekeringsmaatskappy by wie die eiendom verseker is, sal die erf kom skoonmaak en die rommel opruim sodat rondlopers nie daar kan slaap en plunderaars dit kom vandaliseer nie. “Hulle gaan alles kom wegneem wat boemelaars kan wegdra om die risiko te verminder dat mense daar kom karring.”

Werkers het reeds Maandag begin om dakplate af te haal en weg te ry.

Die huis het Saterdag 24 Februarie omstreeks 13:15 aan die brand geslaan en binne minute heeltemal afgebrand. (“Ons lewe lê nou in as”, Weslander, 29 Februarie 2024). Die huis se motorhuis het weer op 5 Maart aan die brand geslaan, maar dit is vinnig geblus.

Volgens Ethne Lawrence, ’n woordvoerder van die Saldanhabaai-munisipaliteit, is dit die huiseienaar se verantwoordelikheid om die brandrommel op te ruim. ’n Rommelhouer is die dag ná die brand neergesit, maar dit is bykans leeg daar weggery.

Lawrence sê die versekerings­maatskappy was besig met ’n ondersoek na die oorsaak van die brand en niks was veronderstel om van die perseel af verwyder te word nie.

Die oorsaak van die brand is nog nie amptelik bekendgemaak nie.

Die huis se uiteinde gaan nou op ’n vergadering deur die trustees, op wie se naam die huis is, besluit word.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article