’n Groot skoonmaakveldtog het vandeesweek by die Kliphoek-rivieroord In Velddrif op die oewer van die Bergrivier ná oorstromings in dié gebied begin.Foto: SP Tredoux


Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het inwoners vandeesweek weer eens teen erge weerstoestande gewaarsku.

Teen Dinsdagmiddag het die Cederberg-munisipaliteit inwoners teen nog reënweer gewaarsku en aangemoedig om enige noodgevalle by die munisipaliteit aan te meld.

Die Cederberg- munisipale gebied het vroeër vandeesmaand onder die eerste groot reën van die winter deurgeloop. Gedeeltes van paaie het weggespoel en infrastruktuur is beskadig.

Sondag (25 Junie) het Tertuis Simmers, die provinsiale minister van infrastruktuur, aangekondig Citrusdal se hoofpad (R303) weer vir verkeer oopgestel is ná 10 dae van noodherstelwerk. Dele van dié pad het in die onlangse storm weggespoel.

“Gedeeltes van die hoofpad wat Citrusdal met die N7 verbind, is vernietig toe die Olifantsrivier sy walle oorstroom het. Hierdie skade het daartoe gelei dat gedeeltes van die Citrusdal-gemeenskap afgesny is.

“Die Wes-Kaapse departement van infrastruktuur het nou saam met die Weskus-distriksmunisipaliteit gewerk om die pad te herstel,” het Simmers gesê.

Benewens die gemeenskap wat nou weer in en uit die dorp kan beweeg, beteken die herstel van die pad ook ekonomiese aktiwiteite kan voortgaan.

Op ’n onlangse media-konferensie het Jannie Strydom van Agri Wes-Kaap verduidelik weens infrastruktuur wat beskadig is, was dit vir boere moeilik om hul sitrus vir uitvoer gereed te kry.

Die Bergrivier-munisipaliteit het by navraag gesê Piketberg is onlangs in dié munisipale gebied die hardste getref. Drie wonings se dakke is weggewaai en talle wendyhuise en informele huise is oorstroom.

Redelinghuys was tydelik afgesny weens hoë watervlakke in die Verlorenvlei-gebied.

Bokkomlaan is ook tydelik gesluit nadat die Bergrivier sy walle oorstroom het.

Hoewel besoekers ondernemings langs die rivier kan besoek, was motoriste gemaan om vir eers nie deur te ry nie. Bome wat in die stormweer moontlik gevaarlik kon wees, is deur die munisipaliteit afgesny en sandsakke is by seker eiendomme geplaas om water te keer.

’n Groot skoonmaakveldtog het by Kliphoek-rivieroord op die oewer van die Bergrivier begin.

Volgens die eienaar, Mariëtte Kotzé, is die omvang van die skade nog nie bekend nie, maar die water “het mooi gesak”. “Die chalets is vuil en nat binne, maar ons het reeds begin werk. Ons kan glad nie sê wanneer die blyplekke weer oop sal wees nie, maar ons is steeds dankbaar vir die reën,” sê sy nadat die chalets verlede week onder water was.

Die goeie reën beteken egter goeie watervlakke vir vanjaar se Bergrivier-kanomarathon, en Kotzé nooi inwoners om die oord by Oordra Saterdag 8 Julie te besoek wanneer die eerste roeiers in Velddrif verwag word. Die NG kerk Velddrif sal verkope op die dag hou om die koue weg te hou.

Intussen is damme se watervlakke in die provinsie goed, met die Bergrivier-, Steenbras- en Theewaterskloofdam wat Maandag (26 Junie) meer as 100% vol was. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het Dinsdag gesê die reënweer bly tot die einde van die week met oorstromings in laagliggende gebiede wat veral in die Weskus en in die Kaapse Wynlande verwag word.. Die munisipaliteit vra inwoners wat kan help met komberse, warm klere en blikkieskos om dit by enige munisipale kantoor af te gee as hulpverlening aan inwoners. Die burgemeester, Ray van Rooy, kan by 083 657 9615 gebel word met enige navrae.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article