Sy was ’n vriendin, ’n mentor, ’n suster en ’n ware voorbeeld vir ander.

Die Weskus is in rou gedompel ná die skielike dood van Virginia Jacqueline Vraagom (61), kurator-prinsipaal van Panorama Primêre Skool, wat Maandag 28 Februarie aan natuurlike oorsake dood is.

Vraagom was baie bekend vir haar omgeehart en liefde vir ander.

Sy is op 19 April 1960 in Steenberg’s Cove gebore en was die vyfde van sewe kinders.

Sy het haar skoolloopbaan by Steenberg’s Cove Primêr begin en daarna na Panorama Primêre Skool geskuif. Sy het haar skooljare by Schoonspruit Sekondêre Skool in Malmesbury voltooi, waarna sy haar onderwyssertifikaat by Zonnebloem Kollege verwerf en haar graad aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie voltooi het.

Die sirkel is voltooi toe sy teruggekeer het na Steenberg’s Cove waar sy vir 41 jaar getroue diens gelewer het. Sy het in daardie tyd – van 2010 tot 2018 – as skoolhoof gedien.

Hoewel sy uit die onderwys getree het, het Vraagom se hart en passie nog altyd by skoolhou gelê. Sy het toe die besluit geneem om haar eie vroeëkinderontwikkeling-sentrum, Fishing for Jesus ECD, te begin.

Vraagom is in 2019 genader om kurator-prinsipaal te word by Panorama Primêre Skool, dieselfde skool waar sy destyds self in die skoolbanke gesit het.

Haar suster Gloria Barends glo sy het Spreuke 22 vers 29 uitgeleef. “Sy wou altyd die beste in haar werksplek doen. Ek wil haar onthou vir die mens wat sy was, want vir haar was die lewe Christus. Sy het haar lewe aan die Here gewy,” sê Barends.

Die twee het ’n besonderse band gehad en geglo dat hulle nie net vleeslike susters nie, maar ook geestelike susters was.

Barends vertel Vraagom was die gom van die familie en het ’n manier gehad om almal bymekaar te hou.

“Sy het graag gebak en kosgemaak en haar Vigi-spesialiteit by elke partytjie voorgesit. Partytjies gaan nie dieselfde sonder haar wees nie. Dit is iets wat ek altyd sal onthou.”

Vraagom het vantevore self bekend gemaak hoe trots sy op haar familie was en hoe na hulle aanmekaar was en dat die broers en susters se liefde vir mekaar oneindig is.

René Joorst, haar vriendin en kollega, onthou hoe hulle dadelik oor die weg gekom het. “As een van slegs ’n paar vroue-skoolhoofde en opvoedkundige leiers in die Weskus, was Vraagom ’n mentor vir my en baie ander.

“Haar deernis, dissipline en diep spiritualiteit was en bly vir my sleutel-inspirasiepunte.”

Avril Daniels, die Vredenburg- kringbestuurder, sê hulle is hartseer oor Vraagom se dood.

“Sy was ’n briljante en visioenêre leier wat provinsiale en nasionale erkenning vir haar werk as skoolleier en -hoof geniet het. Sy was passievol oor die onderwys en die versorging van ons leerders in nood,” sê Daniels.

Hy voeg by dat Vraagom se energie, deursettingsvermoë en vermoë om desondanks die uitdagende omstandig­hede te oorkom, nog lank onthou sal word. Almal getuig daarvan dat Vraagom waarlik “huis toe is” en dat “die engele juig”.

’n Deurry-gedenkdiens word Vrydag 4 Maart van 16:00 tot 19:00 by Bougainvillastraat 19 in Laingville gehou.

Pleks van blomme vra die familie ’n bydrae van niebederfbare voedsel wat hulle aan minderbevoorregtes wil skenk.

Die begrafnis sal Saterdag 5 Maart by Sandy Point-gemeenskapsaal om 10:00 begin.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article