Die hoof van die Laerskool Saldanha, JC Carstens, het ná 41 jaar afgetree.

Carstens het in 1983 as jong onderwyser by die Laerskool Saldanha begin, die leer geklim en in 2008 die skoolhoof geword.

Almal wat saam met Carstens gewerk het, het Woensdag 11 Desember met sy afskeidsgeselligheid net lof vir die leier en mentor wat hy vir hulle was, gehad.

Baie dinge het in sy afgelope 41 jaar by die skool, wat vanjaar sy 125ste bestaansjaar gevier het, verander, maar hy stap met ’n dankbare hart en baie hoogtepunte agter die rug weg.

Hy het al die ouers en personeel bedank vir die skool en leerders se prestasies op verskeie gebiede.

“Ek is dankbaar dat u my soveel jare vertrou het met u kinders se opvoeding en u ondersteuning aan die skool. Hou asseblief aan om die prinsipaal en personeel te ondersteun,” het hy gesê.

Nomnikelo Gaika van die Weskus-kringkantoor het in haar toespraak gesê Carstens het onskatbare kennis met al die ander hoofde gedeel.

Carstens het die Skolewet goed geken en gereeld ander hoofde gehelp waar nodig. Al die huidige personeel en vorige personeel wens Carstens ’n geseënde aftrede toe ná sy 41 jaar in die onderwys by die Laerskool Saldanha.

Melvin Edwards sal van Januarie af as hoof waarneem.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article