Verskeie skole het Saterdag (6 April) die 21ste Wintersportdag van die Christelike Privaatskool Malmesbury (CPM) bygewoon.

Volgens die skool was dit ’n reusesukses.

Omtrent 2 500 mense het die geleentheid bygewoon en ’n dag van rugby en netbal geniet.

Die skoolhoof, Willie Taylor, het die byeenkoms geopen en die sukses van so ’n sportdag toegeskryf aan goeie sportmangees en die liefde vir rugby en netbal wat by leerders gekweek word.

Hierdie jaar het 10 skole met 49 rugbyspanne en 56 netbalspanne, wat uit altesaam amper 900 leerders bestaan het, deelgeneem. Dit was ’n indrukwekkende vertoning deur skole van onder meer Vredendal, Vyeboom, Leipoldtville, Paarl, Langebaan en Tulbagh.

Beide die CPM- o.8- en o.10-netbalspanne het al hul wedstryde gewen – ’n prestasie waarop die skool trots kan wees.

Die sukses van hierdie sportdag sou nie moontlik gewees het sonder die bydraes van borge uit die gemeenskap nie. Die skool wil graag sy opregte dank uitspreek teenoor Afgri, Agrimark, BVSA, Checkers, Citrusdal Cellars, Devmark Property Group, Flynet, FODB, Food Lovers Markets, Graanland Ingenieurswerke, HCT Konsult, Nedbank, Nova Voere, Rugga Roots, Tip Trans, Tomis Group, The Friendly Farmers Butchery en TyreMart vir hul gewaardeerde ondersteuning.

Die dag het nie net oor sport gegaan nie, maar daar was ook ’n verskeidenheid stalletjies met iets vir almal. Leerders het lekker eetgoed geniet en tussen wedstryde ook die speelgoedtafel goed ondersteun.

Ouers en besoekers is bederf met heerlike koffie, vars pannekoek, pizzas, hamburgers, boereworsrolletjies, vetkoek en pasteitjies.

Die Wintersportdag is gekenmerk deur uitstekende sportmanskap en het ’n geleentheid geskep vir die vorming van hegte vriendskappe tussen deelnemers.

Die hoop is dat CPM se 22ste Wintersportdag volgende jaar net so ’n groot sukses sal wees.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article