Selfs sy naaste familie het nie geweet dat sy onverwagse heengaan só ’n tasbare stilte en somber atmosfeer oor Velddrif en die wye Weskus sou veroorsaak nie.

Markus Bester (35), beter bekend as Makkie, se broers, ouers, suster, swaer en skoonsusters het geweet dat dié dekade lange bestuurder van die Laaiplek-hotel in Velddrif gewild is, dat hy baie vriende het en maklik vriende maak, maar die toestroming van medelye ná sy dood die afgelope naweek het hulle onkant gevang.

Bester het Saterdag 16 Maart op die nuwe teerpad tussen die Vredenburg-Paternosterpad en Stompneusbaai in St. Helenabaai verongeluk.

Makkie en Stegmann Bester (45), sy oudste broer, Ethan van Vrede, ’n hotelkollega, en Makkie se dogter, Miandi (7), het besluit om ná ’n kinderpartytjie op Trekoskraal met die nuwe pad via St. Helenabaai terug Velddrif toe te ry.

Johan Bester (37), Makkie se ander broer, vermoed die gebrekkige padtekens het bygedra dat die plek waar die pad onverwags skerp na links swenk en ’n afdraande terselfdertyd begin, dalk te vinnig op hulle was.

Die Toyota Hilux waarin hulle onderweg was, het vermoedelik op die regterskouer beland en op die los gruis gegly, waarna dit die linkerwal op die draai getref het. Die voertuig het vermoedelik ’n paar keer getol, waarna dit weer op sy wiele te lande gekom het. “Daar gaan nog baie ongelukke op daai pad kom,” meen Rick Thiart (46), Makkie se swaer en bestuurder van die Riviera-hotel. Hulle vermoed dat die los gruis langs die pad en die feit dat die draai in die nag pikdonker is, ’n rol in die ongeluk gespeel het.

Noodpersoneel het Makkie op die toneel dood verklaar.

Miandi, Makkie en Thea Strydom se kind, is in ’n kritieke toestand per ambulans na die Life Weskus-hospitaal vervoer, waarna sy Sondag met ’n helikopter na die Rooikruis-kinderhospitaal in Kaapstad oorgeplaas is. Sy is sedert Maandag (18 Maart) in ’n medies-geïnduseerde koma weens swelling op die brein. Haar toestand was teen druktyd steeds kritiek, maar bestendig. Sy is ’n gr. 1-leerder aan die Hoërskool Piketberg.

Stegmann, wat albei sy sleutelbene, sy borsbeen en verskeie ribbes gebreek het, is per ambulans hospitaal toe geneem. Hy is Dinsdag uit die hospitaal ontslaan en sterk by die huis aan.

Ethan, wat geringe skrape in die ongeluk opgedoen het en tuis aansterk, is erg getraumatiseer deur die gebeure.

Makkie se hond, Milo, en Stegmann se twee honde, Luka en Mila, was ook in die bakkie ten tyde van die ongeluk. Milo is op die ongelukstoneel gekry, maar Mila en Luka het weggehardloop. Mila is onder in Stompneusbaai voor ’n huis gekry; erg geskok. Luka is eers die volgende dag opgespoor in die rant naby die ongelukstoneel.

Ná die tyding van Makkie se dood was die mense in Velddrif se seer tasbaar, het Thiart gesê. “Die footprint wat Makkie op die dorp gehad het, is gróót.” Die wye kringe waaruit reaksie op sy dood gekom het, het die familie verras. “Hy was geliefd onder mense van oral oor. Die Weskus sal nooit weer dieselfde wees nie.”

Volgens Johan het Makkie vrede en liefde na elke mens gebring wat oor sy pad gekom het, uit watter deel van die samelewing ook al. “Makkie was liefde. Hy het altyd gegee. Hy was ’n pa, ’n broer en ’n pel vir almal. Hy het eintlik een groot huis met hotelkamers gehad. ’n Ou kom bly vir een aand, dan ontmoet hy vir Makkie, en dan bly hy vyf dae.”

Wat Johan veral sal bybly, is die diep geestelike gesprekke wat Makkie met hom en ander mense gevoer het. “Hy het geestelike krag gehad. Hy was ’n kind van die Here. As ’n mens ’n probleem gehad het, het jy met hom gaan praat. Hy sou jou bystaan; luister. Hy sou sy belange eenkant toe skuif. Hy het nie gekyk na wie jy is en hoe jy lyk en wat jy het nie, maar wat jy diep binne-in is. Dit is hoe diep sy verhoudinge met mense was.”

Makkie het nog baie drome gehad soos om die dorp te ontwikkel en toerisme te laat groei. Hy is onlangs as die direkteur van die familie-onderneming, die Eigevis-groep, benoem en het baie planne gehad om die maatskappy te laat groei en sy oupa, Floors Eigelaar, se nalatenskap voort te sit. “Hy wou sáám met ander werk en het ’n passie vir sy werk gehad.”

Makkie sal ook onthou word vir sy aandeel aan onder meer die begin van die Skink Swartland-geleentheid wat jaarliks in April by die Laaiplek-hotel gehou word.

Vir die Bester-familie was hy die jel wat almal bymekaar gehou het. “Hy het altyd meer gegee as wat hy ontvang het; altyd bereid om met ander te deel. Dis waarom die Here sy lewe geseën het. Geld was vir hom niks.”

Makkie was oneindig lief vir sy ouers, Alrika en Kiewiet, vir sy twee broers en sy suster, Alandi Thiart (43), en sy skoonsusters, Angela Bester en Mickey Bester. Hul kinders was ook erg oor Makkie en het altyd met glimlagte van ’n kuier van hom af teruggekom.

Die familie gaan vir altyd nóg ’n Makkie-storie kry om aan mekaar te vertel. “As jy Makkie ontmoet het, het jy hom onthou. Dis nou maar so,” het Johan en Rick saamgestem.

Hulle bedank almal, ook die burgemeester, Ray van Rooy, en raadslid Johan Moolman, vir die liefdevolle onderskraging in die swaar tyd. . ’n Roudiens word Saterdag 30 Maart om 11:00 in die NG kerk Laaiplek gehou.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article