Die bekende plaaslike skipper en visserman Florus Gerhardus Visser, beter bekend as Ridus, is Sondag 3 April in ’n botsing in Velddrif dood.
Visser, wat in Velddrif gewoon het, is op 8 Julie 1972 in Vredenburg gebore. Hy sou dus later vanjaar sy 50ste verjaarsdag vier. Volgens sy familie was hy ’n liefdevolle omgee-mens en het hy altyd ander eerste gestel. Een van sy dogters, Bea Visser, sê hy het altyd gespot en gesê sy hart is soos ’n taxi – altyd plek vir nog.
Medelye het op Facebook ingestroom soos mense vertel hoe hulle Visser gaan mis en wat hy vir hulle beteken het.
“Hy het altyd gesê vriendelikheid kos niks. Sy grappe was eindeloos en hy het ook altyd gesê hoe meer mense om hom, hoe beter. Hy was lief om kos te maak en mense te onthaal. Sy huis was almal se huis en sy gesin was sy alles; sy hele lewe. Hy sou enigiets vir ons doen,” vertel Bea.
Sy voeg by: “My pa was nooit skaam om ’n helpende hand uit te reik nie. Hy sou altyd gehelp het – selfs sonder om enigiemand anders daarvan te sê.”
Visser het van kleins af ’n groot liefde vir die see gehad en was ’n skipper na wie baie mense opgekyk het en wat baie gerespekteer het. “Hy was eintlik maar ’n goeie vriend vir almal.”
Bea sê haar pa het hulle vertel hoe hy en vriende skool “gebank” het om te gaan visvang. “Dis ook waar hy sy bynaam ‘Boeke’ gekry het – omdat hy nooit aandag aan ’n boek gegee het nie.”
Visser het in 1992 uit die weermag gestap en as bemanningslid op die boot Doreen begin werk. Later het hy by Martin Tallie, ’n goeie vriend van hom, as bemanningslid gewerk en toe vir stuurman gaan leer. Hy het in 2008 as skipper op Mizpah begin vaar, en is ses maande later na ’n groot staalboot bevorder, waar hy ook as skipper gewerk het.
Die laaste boot waarop hy gewerk het, was die Adenia, waar hy een van die top-skippers was.
Henry March, sy werkgewer by Premier Fishing, sê in die 12 jaar wat Visser by die maatskappy gewerk het, het hy homself as ’n bekwame skipper bewys. “Hy het ’n passie gehad as dit by visvang kom en ons gaan hom as kollega, skipper en vriend mis.”
Sy dogter beaam dit. “Ons gaan hom verskriklik mis – die leemte wat hy laat, sal nooit gevul word nie. Ons is oneindig baie lief vir hom,” sê Bea.
Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n plaaslike polisiewoordvoerder, ondersoek die polisie nog die omstandighede van die botsing.
Die begrafnis word vir Saterdag (9 April) om 10:00 in die NG kerk in Laaiplek beplan.
Verversings en vieringe sal om 11:00 by die Laaiplek-hotel plaasvind.





