’n Man is verlede Dinsdag in ’n bendeverwante voorval in sy been geskiet terwyl hy na sy vriendin se huis in Darling gestap het.

Volgens sers. Johnatan Filander, ’n woordvoerder van die Darling-polisie, het die voorval op 6 September om 07:30 in Derdelaan plaasgevind.

Terwyl die man (32) na sy bestemming onderweg was, het een van twee mans wat verby hom gestap het, ’n vuurwapen uitgepluk en op die slagoffer geskiet.

Die koeël het die man se regter-onderbeen getref en volgens die polisieverslag het dit die weefsel binnegedring. Die koeël is regdeur en het ’n uitgangswond gelaat.

Die beseerde slagoffer het daarin geslaag om van die twee verdagtes af weg te hardloop en dadelik hulp te gaan soek.

Die polisie is gekontak en die slagoffer is medies versorg.

Dié man het aan die polisie gesê hy ken die skieter, maar hy weet nie wie die ander verdagte is nie.

Volgens Filander het dit by nadere ondersoek aan die lig gekom die voorval is bendeverwant.

Die polisieverslag verwys na ’n “bendeoorlog” tussen “mededingende groepe oor dwelmgebied in Darling”.

Inligting is ontvang van ’n adres waar die twee verdagtes moontlik skuil, maar die polisie het hulle nie by die betrokke adres aangetref nie.

’n Besluit is toe geneem om alle in- en uitgangsroetes van Darling met behulp van munisipale wetstoepassing te versper.

Intussen het die polisie ’n foto van die een verdagte in die hande gekry en lede het ander moontlike adresse in Darling besoek.

Die twee verdagtes is uiteindelik aangekeer en ná nadere ondervraging en ondersoek deur kapt. Garry Stoffers, die Darling-polisie se bevelvoerder, is die ligging van die vuurwapen wat in die misdaad gebruik is, bepaal. Die polisie het toe die vuurwapen, waarvan die reeksnommer verwyder is, in ’n rooi plastieksak gevind, waar dit langs ’n huis begrawe was.

Volgens Filander was die wapen, te oordeel na die vars omliggende grond, duidelik baie onlangs begrawe.

Tydens die inhegtenisneming van die twee mans het die polisie ook op die selfone van die verdagtes beslag gelê.

Nadat toegang tot die selfone verkry is, het die polisie gesien die mans het voor en ná die skietery oor die voorval gekommunikeer.

Die selfone sal vir nadere ontleding weggestuur word.

’n Saak van poging tot moord word ondersoek.

Wetstoepassingsagentskappe is ontplooi om die vrede te bewaar en enige verdere mededingende aanvalle deur bendegroepe te voorkom.

Sedert die skietery verlede week is geen verdere ernstige bendeverwante voorval in Darling of die onmiddellike omgewing aangemeld nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article