Vier mense is in ’n skietery in Winkfieldstraat, Hopland (Saldanha), gewond nadat ’n 24-jarige man daar op hulle losgebrand het.

Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, staan Enrick Filander (24) tereg op aanklagte van poging tot moord en gewapende roof.

Filander het na bewering op Donderdag 11 April ook ’n 34-jarige vrou met ’n vuurwapen gedreig en haar selfoon, juwele en kontant geroof.

Saterdag 12 April het hy glo om 01:50 op ’n groep vriende in Winkfieldstraat losgebrand en vier mense gewond: ’n 21-jarige vrou is in haar regterbobeen getref, ’n dertigjarige man is in sy linkerboarm gewond, ’n 23-jarige man in sy linkerdy en ’n 24-jarige man is in die rug getref deur ’n koeël wat ook sy long beskadig het.

Hy sterk tans in die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad aan.

Filander het Maandag weer in die Vredenburg-landdroshof verskyn.

Hy en drie ander beskuldigdes is ook in Maart verlede jaar van poging tot moord aangekla nadat hulle na bewering op twee mans in Groenvleistraat, Diazville, begin skiet het.

Volgens Helfrich was Filander 13 jaar oud toe hy die eerste keer vir ’n misdryf aangekeer is.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article