Vervolg van bl.1
“Hulle was tot stilte geskok. Daar was letterlik geen reaksie nie. Hulle het my bedank en huis toe gestap,” het Thyrone verduidelik.
“Ek ken my gemeenskap baie goed en hulle is nooit só stil oor enige saak waaroor hulle sterk voel nie. Dit maak my bekommerd. Hierdie is ’n tydbom wat gaan bars.”
Thyrone sê hy is self uiters teleurgesteld oor die uitkoms van die ondersoek aangesien daar volgens hom duidelike videomateriaal van die skietery en die skieters is wat Leo se dood veroorsaak het. Die videomateriaal kon volgens Thyrone egter nie in die ondersoek gebruik word om die skieter te identifiseer nie.
Verder is ’n rubberkoeël ná Leo se dood uit sy kop gehaal en volgens Thyrone is rubberkoeëls daardie tragiese aand in 2020 deur die polisie gebruik om die sogenaamde “oproerige betogers” onder beheer te kry.
Ilse Warner, ook van Laingville, het Dinsdag aan Weslander gesê die behuisingsbetoging wat in Julie 2020 tot Leo se dood gelei het, het aanvanklik vreedsaam begin.
Sy voel die polisie het onnodig aggressief teenoor sommige van die betogers opgetree en benewens Leo se doodskoot, is daar “op baie ander mense geskiet wat deur die rubberkoeëls beseer is”.
Dit is vir Ilse besonder hartseer dat niemand vir Leo se dood verantwoordelik gehou gaan word nie.
“Ons is ’n klein gemeenskap wat bymekaar staan. Ons het alles probeer om geregtigheid te laat geskied, maar voel steeds ons het klein Leo en sy familie gefaal omdat ons steeds nie weet wie die skieter is nie,” het Ilse erken.
Ilse sê die gemeenskap voel die skieter moet self na vore kom en verantwoordelikheid neem vir wat gebeur het, ongeag of dit moontlik ’n ongeluk, nalatigheid of selfs kwaadwillig was.
“Leo se grootmaak-ma is al dood en sy het gesê sy wil net weet wie hom geskiet het. Sy het nooit berusting gekry nie,” meen Ilse. “Ons trane loop steeds as ons praat oor wat gebeur het. Hy was ’n onskuldige kind wat rustig in sy huis gesit het en het niks met die betogings te doen gehad nie.”
Chris Nissen, die Wes-Kaapse kommissaris van die Suid-Afrikaanse menseregtekommissie (SAMRK) het intussen in ’n verklaring gesê die SAMRK is ontevrede oor die uitkoms van die ondersoek.
Die SAMRK gaan ’n gedetailleerde verslag van die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat se ondersoek na Leo se dood versoek.




