Ons almal wil iewers behoort. Ons almal wil graag ‘n plekkie hê waar mense bly is om jou te sien, jou vaardighede benodig en navraag oor jou welstand doen. No man is an island. Die gereelde saamwees, ondersteuning en tuisvoel in ‘n groep kan ‘n mens se lewe verryk, al is dit dalk aanlyn. Groepe kan akademies, prakties, sportief of sosiaal van aard wees. Dit kan bende- of mafialede of ‘n kerkgroep wees, maar daar waar ‘n sentrale sentiment mense saamsnoer, beleef hulle ‘n soort huislikheid. Meestal lei groepsbyeenkomste tot groei – hopelik positiewe groei.
Sterk ooreenkomste bestaan tussen mense en bome wat in groepe saamleef, want beide beleef ‘n beter lewensgehalte en groter oorlewingskanse in groepsverband. Enkelinge verbeur die voorreg daarvan om, soos bome, hul bronne met mekaar te deel. Boomgroepe deel hul water, temper oormatige temperature en waarsku mekaar via hul wortelstelsel en grond-organismes sodra negatiewe faktore soos droogte, siektes of predatore nader sluip. Bome skep suurstof en ‘n hele ekostelsel terwyl hulle skaduwee, voeding en skuiling bied – sowaar tipiese voorbeelde vir hoe mense mekaar ook kan ondersteun – as ons wil.
Dit bring ons by die persoonlike keuse oor die klimaat wat ons skep: Waar ‘n mens ook al beweeg – dra ons by tot ‘n positiewe behoort-gevoel, of lei ons teenwoordigheid dalk tot spanning?
Suksesvolle behoort-aan-groepe kan saamstaan en saamsorg, soos buurtwaggroepe om buurte te beveilig, en in die natuur waar bromvoëls in groepe onselfsugtig saamwerk om langer as 365 dae kos vir ‘n enkele kuiken aan te dra.
In Oudtshoorn het die saamstaan van ‘n groep beswaardes gehelp dat die CP Nel-museum op 10 Maart weer vir die publiek oopgestel word. Die museum is weens magsmisbruik en onkunde gesluit en daarna is iemand se huisraad en matrasse bo-oor historiese items gegooi. Vrywilligers en trustees moes ernstig onderhandel voordat stapels meubels, stof en voëlmis weggewerk kon word om hierdie merkwaardige museum kort voor die KKNK weer oop te stel.
Op die Griekse eiland Ikaria ontwikkel min inwoners kroniese siektes en ‘n derde van hulle haal hul 90ste verjaardag. Navorsers sê Ikaria-inwoners beleef sterk familie-bande, kry oefening deur daaglikse werk terwyl hulle bokke melk, vis vang, heinings bou en na vrolike gemeenskapskuiers stap. Hulle geniet middagslapies en eet gesond – min rooi-
vleis en meestal vars, plantaardige kos. Internasionaal gesproke val Ikaria in een van slegs vyf Blou Sones: Gebiede met ‘n stadiger lewenstempo en ‘n veel hoër gemiddelde ouderdom; waar mense hul lewensvreugde met mekaar deel.
Ons kan nie almal na die enkele blou-sone-gebiede wêreldwyd verhuis nie, maar ons kan ons energie daaraan wy om omgee, gemoedelikheid en saamwerk vir ‘n groter doel na ons eie omgewing te bring . . . en oorweeg om soms ons rooivleis vir ‘n klompie bone of slaaibak te verruil.





